

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 November 2007
Talle lesers het gereageer op die foto’s en berigte van die buitengewone groot rotte met wit stertpunte wat in die omgewing van Louis Trichardt aangetref is.
Dit blyk dat die rot ‘n heel besonderse en eintlik baie skaars inwoner van die noorde van die Limpopo Provinsie is. In Suid-Afrika kom hulle inderdaad net hier voor en hulle is na bewering op die internasionale Rooi Data Lys van uiters skaars en bedreigde, spesiaal-beskermde spesies. Kenners het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om nie die rotte dood te maak nie, aangesien hulle ook betreklik skadeloos is.
Verskeie lesers het geskakel, geskryf en Internet-uitdrukke aangestuur.
‘n Besonder interessante bydrae is gelewer deur mev. Tokkie Engelbrecht, wat vertel dat hulle presies so ‘n rot in die jare sewentig (1974-76) op Levubu gevang en toe vir identifikasie na die Pretoria Dieretuin gebring het. Sy sê die wetenskaplikes by die dieretuin was heel opgewonde oor die vonds. Hulle het toentertyd die rot uitgeken as Haagner se Reuse rot - vernoem na die wetenskaplike wat dit die eerste keer beskryf het. Dit was destyds die eerste lewende voorbeeld van die diertjie wat die dieretuin beskikbaar gehad het om aan besoekers te toon.
"Ons het toe later nog een gevang. Hulle word eintlik hondmak," sê tannie Tokkie. Sy sê die rotte het prominente rooi myte wat op hulle parasiteer. Hulle word veral aangetref by vleiagtige gebiede, waar spruite afkom.
"Hulle sal maklik ‘n hele sak mielies in een nag kan wegdra in hul kieste." Die reuse rot het ruim sakwange wat hulle volprop met sade. Die Engelse-benaming vir die rot verwys ook spesifiek na hierdie eienskap, deurdat hulle na hom verwys as die "Pouched Rat."
Die beskrywing kom ooreen met dié van lesers wat van Levubu en sover as Shayandima naby Thohoyandou gebel het.
Prof. Dries Bester van Levubu sê onder wetenskaplikes is die diertjie deesdae bekend as Cricetomys gambianus of ook as die African Giant Rat. Hulle kan tot 80cm lank word en 1,30kg weeg. In Levubu pas makadamianeute glo lekker in die rotte se sakwange!
"Hulle handjies en voetjies is pienk en hulle is baie saggeaard," sê Bester. Hy sê hulle dra graag blink voorwerpe aan om die vloer van hul tuistes in ‘n gat te versier, saam met avokadopitte, neutdoppe en maroelasade. Hulle is glo deesdae betreklik volop op Levubu. Hy sê die rotte is al aangetref in die Natalse-kusgebiede tot in Mosambiek en kom ook voor in Wes-Afrika en Gambië op plekke waar die reënval hoër is as 800mm per jaar.
Bester sê op dorpies waar baie afvalkos rondlê, kan hulle nogal lastig word.
"Miskien is die agteruitgang van Louis Trichardt dorp dalk ‘n aantrekkingskrag vir die spesie," skerts Bester.
Volgens die amptelike beskrywing het die reuse rot ‘n lang, haarlose stert met ‘n wit punt. Sy lyf is oortrek met grys pels wat effens ligter van kleur is aan die onderkant van die dier. Sy voorpootjies is wit en sy gesig het kenmerkende lang, donker snorbaardjies. Sy klein ogies is omring deur donker oogvlekke. Sy dieet sluit insekte, termiete, vrugte en groente in en in sy wangsakke dra hy kos weg wat hy opgaar.
Daar is net twee spesies van hierdie soort rot, waarvan net Cricetomys gambianus in Suid-Afrika voorkom.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
