ADVERTISEMENT:

 

Levubu-sakeman twee keer geskiet, tydens aanval op plaas

 

News  Date: 09 November 2007

 

Mnr. Kallie Erasmus, ‘n inwoner en besigheidsman van Levubu, het vroeg Woensdagoggend ternouernood aan die dood ontkom toe hy deur ‘n gewapende man by sy plaaswoning aangeval en geskiet is.

Die aanval het 05:15 plaasgevind, kort nadat Kallie na sy woning teruggekeer het, nadat hy ‘n kwartier vroeër gery het om sy vulstasie by die Panorma-winkelsentrum op Levubu te gaan oopsluit. Die vulstasie word nie 24 uur beman nie.

By die huis aangekom het Kallie sy elektriese motorhuisdeur geaktiveer en ingery, maar voordat die deur weer agter hom kon toemaak het ‘n gewapende man die motorhuis binnegestorm en Kallie met ‘n pistool gedreig.

Die gewapende man het Kallie forseer om die veiligheidshek tussen die motorhuis en huis oop te sluit, waarna hulle die huis in is. Tot in hierdie stadium het Kallie kalm al die man se bevele uitgevoer.

Kallie se vrou, mev. Petro Erasmus, het intussen haar man se stem gehoor en nader gestap. Oomblikke later het sy die gewapende man gesien en onmiddellik teruggehardloop kamer toe om ‘n vuurwapen te gaan haal.

Voordat Petro egter weer haar man kon bereik, het sy twee skote gehoor en oomblikke later het sy gesien hoe ‘n bebloede Kallie en sy aanvaller op die vloer worstel.

Petro vertel dat Kallie vir haar geskreeu het dat hy raakgeskiet is en dadelik hulp nodig het.

"Ek wou eers skiet, maar ek was bang ek skiet vir Kallie raak," het ‘n steeds geskokte Petro ure na die voorval vertel. Sy voeg by dat sy egter opgemerk het dat die aanvaller nie meer sy pistool by hom het nie, waarna sy nader gestorm het en die man met haar rewolwer oor die kop geslaan. Sekondes later is die aanvaller oorrompel.

Minute na die worsteling het lede van Beaufort Sekuriteit by die Erasmus-woning aangejaag gekom. Hul vinnige aankoms was te danke aan die feit dat Kallie daarin kon slaag om ‘n paniekknoppie te aktiveer.

Die sekuritietswagte het die aanvaller aangehou, terwyl Kallie inderhaas deurgejaag is na die Zoutpansberg Privaat Hospitaal op Louis Trichardt. Die polisie is ook intussen ontbied. Kallie is behandel vir ‘n skietwond in die regter bobeen en regter kant van sy bors. Sy wonde was egter nie lewensgevaarlik nie.

Met die polisie se aankoms op die toneel is die verdagte, wat ook tydens die voorval gewond is in die been, ondervra en in arres geplaas. Volgens kapt. Monica Nemavhola, bevelvoerder van die speurtak op Levubu, is die pistool wat in die roof gebruik is, teruggevind. Sy het later aangedui dat die vuurwapen onlangs op ‘n plaas buite Louis Trichardt gesteel is. Kapt. Nemavhola het verder gesê die polisie ondersoek die voorval en die moontlikheid bestaan dat meer verdagtes betrokke kan wees.

In reaksie op die voorval het die voorsitter van die TLU SA, mnr. Dries Joubert sy skok uitgespreek oor die soveelste geweldadige aanslag op die boeregemeenskap in die verre noorde van die land in soveel dae. Hy het die polisie versoek op hul optrede teen hierdie tipe booswigte op te skerp.

"Soveel keer gebeur dit dat hierdie kriminele wegkom, net oor meer gewelddadig te raak met elke aanval," het Joubert gesê. Soos wat inwoners van Lynnwood in Pretoria begin doen het, het Joubert gesê dat hulle ook oorweeg om toegangsbeheer in die streek te begin toepas indien die polisie nie die vlaag misdaad onder beheer kan kry nie.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines