ADVERTISEMENT:

 

Vriende van mev. Stien Malan bekyk ‘n gedeelte van die skade wat die ontploffing aan die dak van haar woonhuis in Bredastraat op Louis Trichardt aangerig het. Dakplate is losgeruk en balke versplinter.

Ontploffing ruk woonhuis aan flarde

 

News  Date: 09 November 2007

 

Uitgebreide skade ten bedrae van duisende rand is op Louis Trichardt aan ‘n woonhuis aangerig deur ‘n warmwatertoestel wat ontplof het. ‘n Bejaarde inwoner, wat ten tyde van die ontploffing op haar bed in haar slaapkamer gerus het, het wonderbaarlik geen beserings opgedoen nie, hoewel die bed, met sy kopstuk by die venster, met glasskerwe besaai is.

Ernstige strukturele skade is veroorsaak deur die ontploffing wat Donderdag, 1 November, in die namiddag plaasgevind het in die woonhuis van mev. Stien Malan in Bredastraat. Weens die omvang van die skade moes die inwoners die woonhuis ontruim en inderhaas noodverblyf elders bekom, terwyl spesiale maatreëls ook getref moes word om hul meubels te beveilig, aangesien die ontploffing ‘n groot deel van die dak weggeskiet het. Die balkwerk in die staandak is versplinter en het gedeeltelik ineengestort, die plafonne is vernietig, sinkplate en fassieplanke is losgeruk en ruite aan skerwe geskiet. Die ontploffing het puin regdeur die woonhuis en buite op die grasperke verstrooi.

Die bejaarde mev. Malan is dieselfde aand nog deur haar seun van Naboomspruit kom haal en sy is nou tuis by haar dogter op Secunda, totdat die nodige herstelwerk aan die huis op Louis Trichardt gedoen kan word.

Die ontploffing het plaasgevind terwyl mev. Malan in die hoofslaapkamer gerus het. Haar kleinseun, Armand, was buite voor sy kamerdeur, terwyl haar kinders, die egpaar Denysschen, nog by die werk was.

‘n Vriendin van die gesin, mev. Olive Brummer, het voor die huis verbygery op die presiese oomblik van die ontploffing.

"Ek het die slag gehoor, maar aanvanklik gedink dit is ‘n band wat gebars het." Toe sy uitklim om ondersoek in te stel, het sy gesien wat gebeur het.

"Van die boonste fassieplanke was besig om teen die dakhelling af te gly en stoom en stof het bo uit die dak uitgeborrel."

Mev. Brummer kon dadelik bystand verleen aan mev. Malan, wat tussen die skade en rommel deur self van haar slaapkamer af uitgestap het. Hoewel sy geskok was, was sy verder ongedeerd en erg verlig om mev. Brummer te sien.

Mev. Trieks Denysschen sê Armand, wat vanjaar in Graad 12 is, het gelukkig al verlede Maandag sy laaste eksamenvakke geskryf. Die voorval kon gelukkig nie sy eksamenskrywery beïnvloed nie. Die Denysschens en Armand het voorlopig alternatiewe verblyf bekom in ‘n woonhuis wat leeg gestaan het digby die beskadigde woning.

‘n Loodgieter op die dorp, mnr. André van Zyl, het by navraag gesê dit is moeilik om die oorsaak van so ‘n ontploffing vas te stel as daar nie genoeg van die toestel ná die ontploffing oorbly nie. ‘n Stewige blokkering van die noodklep, tesame met ernstige oorverhitting, is die waarskynlikste aanleiding tot so ‘n ontploffing. Mnr. Van Zyl sê die noodklep maak oop by ‘n temperatuur van 107ºC. Hy sê hoewel daar verbasende groot hoeveelhede kalk in ‘n warmwatertoestel kan aanpak, verminder dit bloot die kapasiteit van die toestel, maar beïnvloed dit nie die doeltreffende werking van die noodklep nie. Die gemiddelde toestel het ‘n leeftyd van 13 tot 15 jaar en hoef bloot vervang te word wanneer die tenk deurroes en begin lek.

"Dis eintlik een van die heel veiligste toestelle denkbaar, mits die veiligheidsklep onbeskadig is en onbelemmerd kan werk," sê mnr. Van Zyl.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines