

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 November 2007
"Ons is baie dankbaar. Regverdigheid het geskied. Ons kan nou weer aangaan met ons lewe," het mev. Rita Steyn, moeder van Theunis Steyn vandeesweek op Louis Trichardt gesê, ná meer as ‘n jaar en ses maande van hofsake, spanning en onsekerheid.
Die hofsaak het gevolg op ‘n ongeluk waarin ‘n voetganger, die 19-jarige Tsepiso Moremi, op Dendron dood is.
In ‘n hofsaak wat vandeesweek Maandag in die landdroshof in Polokwane afgehandel is, is Theunis ‘n opgeskorte vonnis opgelê. Hy is gevonnis tot gevangenisstraf van drie jaar, wat voorwaardelik opgeskort is vir vyf jaar, nadat hy vroeër skuldig bevind is aan strafbare manslag en dat hy nagelaat het om stil te hou by die toneel van die ongeluk waarin Moremi doodgery is. Die hof het in sy uitspraak kennis geneem van die feit dat Steyn die afgelope een en ‘n half jaar genoeg gely het en dit in berekening gebring ter versagting van die vonnis.
Steyn, wat in Mei verlede jaar aanvanklik van die ongelukstoneel op Dendron weggery het, het homself later vrywillig by die polisie aangemeld. Hy is vir 15 dae aangehou, voordat hy in weerwil van heftige besware op borgtog uitgelaat is. Daarna het ‘n reeks hofverskynings gevolg, waarvan sommige gepaard gegaan het met emosionele betogings en rassistiese slagspreuke.
Gesinslede van die oorledene het vandeesweek hul teleurstelling uitgespreek met wat hulle bestempel het as ‘n te ligte straf.
In ‘n telefoniese onderhoud het mev. Steyn vandeesweek gesê Theunis is voltyds terug by sy werk op ‘n plaas by Dendron en het dankie gesê vir almal se gebede, SMSe en ander boodskappe.
"Dit is te danke aan hulle en aan ‘n Hoërhand dat ons hierdeur gekom het."
Sy sê hulle het Maandagaand ná 21:00 uit die hof gekom.
"Ons het uit die staanspoor dit alles in die Here se hande gelaat en tesame met die onderskraging van soveel welwillende mense kan ons nou terugkeer na normaal en aangaan met ons lewe."
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
