ADVERTISEMENT:

 

Dieselfde graf in 2007 met mnr. Ben Holtzkampf (87), verslae oor die toestand van die Louis Trichardt begraafplaas. Foto verskaf.

Besoekers beskryf begraafplaas as “absolute skande”

 

News  Date: 09 November 2007

 

‘n Begraafplaas is een van die plekke in ‘n dorp waar besoekers van heinde en verre kom om ‘n laaste eerbetoon aan ‘n geliefde te bewys. Dit dien dan ook as vertoonvenster vir die dorp.

"…en om dan te midde van die hartseer en verdriet deur so ‘n begraafplaas te sukkel is ‘n absolute skande! As mens moet sien hoe die begrafnisgangers kort-kort struikel oor bossies en ongesnyde gras en klippe, dan kry jy as oud-inwoner skaam," skryf Kobie Louw van Bronkhorstspruit. Louw het op 1 November vanjaar ‘n geliefde in die Louis Trichardt begraafplaas begrawe. As ‘n oudleerling van Louis Trichardt en gereelde besoeker aan die dorp sê Louw dat die "toestand van die eens netjiese begraafplaas skokkend is" en dat die agteruitgang oor die jare waarneembaar was. Louw het moeder en vader, oud-inwoners van Levubu, in die dorp se begraafplaas begrawe, in 1997 en 1998 onderskeidelik, asook ’n broer in 2006.

"Besef die Stadsraad dat die meeste besoekers aan die dorp juis die begraafplaas besoek! Die inwoners betaal tog immers belasting en daar is grafkostes, wat word van die fondse?" skryf Louw.

Intussen het bekende inwoner, mnr. Cobus Holtzkampf, sy 87-jarige vader, oom Ben Holzkampf na die begraafplaas geneem. "My pa het net verslae gestaan en staar na die agteruitgang van ons begraafplaas - hy het nie woorde gehad nie," sê Holtzkampf. Die doel van die besoek was om ‘n foto van die graf van sy oupa te neem vir Holtzkampf se stamboomprojek. Sy oupa is in 1938 oorlede.

Holtzkampf se vraag was wat van die toerusting geword het wat aan die begraafplaas geskenk is vir instandhouding. "Ja, ek kan self my oupa se rusplek skoonmaak, so ook my ander geliefdes s’n, en ek gaan dit doen. My vraag is egter waarom betaal ons dan belasting; wat word met die fondse gedoen?" vra Holtzkampf.

Mnr. Jan Brink van die begrafnisonderneming AVBOB en mev. Francis de Bruin van Limpopo Melkerye was die persone wat in Februarie vanjaar toerusting aan die begraafplaas geskenk het. Mnr. Brink het hierdie week gesê dat hy by tye vanjaar gesien het dat die toerusting gebruik word. Brink was egter nog nie by die begraafplaas vandat die reënseisoen begin het nie, aangesien baie mense deesdae verassing verkies.

"Ek gaan eersdaags weer na die begraafplaas en sal dan die toestand daar evalueer," sê Brink.

Nog ‘n inwoner het waargeneem dat die begraafplaas in die boompark naby die N1 en langsaan die Limpopo Toerisme Inligtingsentrum totaal met gras oorgroei is. Van hierdie historiese driehoekige begraafplasie sê geskiedeniskenner en regsgeleerde mnr. Pieter F. Botha dat die slagoffers van ‘n bomontploffing in 1899 daar begrawe is.

"Die bomontploffing was in een van die forte waar hulle besig was om ammunisie reg te pak. Hulle is begrawe langs die ‘rooi pad’ soos wat daardie deel van die hoofweg vir ‘n tydperk genoem is," sê Botha. Dit strook met ‘n ander bron wat sê dat vyf burgers in 1899 ‘n militêre begrafnis ontvang het en langs die Messina-Pietersburgpad begrawe is. Die oorgroei van die historiese begraafplasie bekommer Botha nie soveel soos die probleme met suiwer water, riool en elektrisiteitsonderbrekings nie. Die munisipaliteit, by monde van die amptelike woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het onderneem om die vrae rondom die begraafplase te ondersoek.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines