ADVERTISEMENT:

 

Die verwoeste gedeelte van Nyala Lodge. ‘n Brand het tydens Maandagaand / Dinsdagoggend se hewige elektriese storm ontstaan.

Lodge vat vlam tydens elektriese storm

 

News  Date: 09 November 2007

 

Terwyl die goeie reën welkome verligting vir baie brand, het die gepaardgaande elektriese storm Dinsdagoggend groot skade vir Hendrik en Estelle Kemp van Nyala Lodge gebring, toe weerlig vermoedelik ‘n brand veroorsaak het en ‘n gedeelte van die lodge in puin gelê het.

Die brand, wat tussen ongeveer 01:00 en 02:30 ontstaan het, het vanweë die gepaardgaande sterk wind vinnig versprei. Twee geboue, die kombuis en industriële toerusting en die gastehuis, bestaande uit twee slaapkamers, kombuis, badkamer en sit/eetkamer, is in die brand verwoes. Al wat oorgebly het van die gastehuis se meubels, deure, deurrame en vensters (alles handgemaak van Oregon Pine) is hopies as.

Die brand is opgemerk deur werkers van Christel Slinger, waarna Hendrik en Estelle per selfoon ingelig is. Die vlamme was vir kilometers sigbaar. Met die Kemp-egpaar se aankoms op die toneel, en ten spyte van omliggende boere en vriende se hulp om die vlamme te probeer blus, kon niks gered word nie. Die oorblywende deel van die lodge wat nie deur die vlamme verwoes is nie, sluit in vier kamers met badkamers, ‘n eetkamer en ontspanningsarea. 

Die lodge is geleë sowat 45km vanaf Louis Trichardt op die Vivo-pad. Die eerste gedeelte van die lodge is in Oktober 2006 geopen en die tweede deel in April 2007. Hendrik en Estelle was veral trots op die lodge omdat al die bouwerk en binnenshuise versiering deur hulleself gedoen is. Ten spyte van alles, het Estelle gesê dat vroue wat gereed gemaak het vir die damesoggend by die lodge op 13 November nie bekommerd hoef te wees nie, aangesien hulle steeds voortgaan met die oggend, met Abrie Coetzee as gasspreker.

Hendrik en Estelle het hul dank uitgespreek teenoor Louis en Cornea van der Walt, Bouds en Kiewiet Botha, Neil en Beula  Lyon, Henk van Rensburg, Ivor Holtzhausen, Theyman Jongbloed, Renier Geerds en hulle spanne wat gehelp het.

"Baie dankie aan Oom Gillie Fick vir die trekkers en waterkarre en vir Henk van Rensburg vir sy hulp met sy  vuurvegter. Trompie en JW Hofmeyer vir jul werk en hulp met die opruiming. Johan en Anrie Potgieter, Marie van Rooyen, Willie en Christa de Wet, familie en vriende - dankie vir die bystand. Baie dankie vir almal wat ons gebel het, ‘n sms gestuur het, ‘n besoek afgelê het of net vir ons gebid het. Baie dankie aan die Mara  gemeenskap wat soveel vir ons omgee. Laastens, baie dankie aan ons Skepper dat Hy ons gesin gespaar het en ons krag gee," sê die egpaar.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines