ADVERTISEMENT:

 

Nasionale hoofweg gesluit na botsing in tonnels

 

News  Date: 09 November 2007

 

Die N1 tussen Louis Trichardt en Musina is Maandagoggend (5de) vir ‘n geruime tydperk gesluit, na ‘n trompop botsing binne in die Hendrik Verwoerd tonnels. Wonderbaarlik was daar geen ernstige beserings nie.

Die ongeluk, wat omstreeks 06:30 plaasgevind het, is veroorsaak toe die bestuurder van ‘n bakkie probeer het om ‘n ander voertuig binne een van die tonnels verby te steek. Die bakkie het egter in ‘n aankomende vragmotor vasgejaag, waarna ‘n derde voertuig agter in die vragmotor vasgejaag het.

Die sluiting van die N1 het vir grootskaalse ongerief gesorg, veral vir verskeie leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt wat tans besig is met hul finale eksamens van die jaar. Baie het laat by die skool opgedaag, nadat hulle Dzanani-oor moes ry via die Witvlagpad.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike was die bakkie vanaf Johannesburg na Zimbabwe onderweg. Die bestuurder van die bakkie, asook sy passasier, is afkomstig vanaf Zimbabwe en is in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal opgeneem vir mediese behandeling. Beide is reeds Dinsdag ontslaan. Die bestuurder van die vragmotor, asook die bestuurder van die voertuig wat van agter met die vragmotor gebots het, was ongedeerd. Intussen ondersoek die polisie ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines