

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 November 2007
Die verdagte wat teregstaan vir die aanval op die Erasmus-egpaar van Levubu is skaars drie weke vantevore op borgtog vrygelaat en moes aanvanklik hierdie week weer in die hof op Louis Trichardt verskyn op klagte wat verband hou met twee soortgelyke aanvalle. Dié skokkende inligting het vandeesweek aan die lig gekom.
Levy Baloyi (31) is op 7 November aangekeer by die woning van Levubu sakeman Callie Erasmus. Erasmus is omstreeks 05:15 in sy motorhuis deur ‘n gewapende man oorval, kort nadat Erasmus sy vulstasie vir besigheid gaan oopsluit het. Erasmus is die huis ingeforseer, waar sy eggenoot, Petro, op die rumoer ingestap het. Sy het dadelik kamer toe gehardloop om haar vuurwapen te gaan haal, maar voor haar terugkoms is verskeie skote afgevuur. Kort daarna het sy gesien hoe haar man in ‘n worsteling met hul aanvaller is. In daardie stadium was Erasmus reeds twee keer geskiet, maar met Petro se hulp kon die egpaar daarin slaag om hul aanvaller te oorrompel. Levy, wat in die hand gewond is, is op die perseel deur lede van Beaufort Sekuriteit gevind, waarna hy later deur die polisie in hegtenis geneem is.
Die aanval op die Erasmus-egpaar het skokgolwe deur die boeregemeenskap gestuur, veral aangesien dit volg kort op die hakke van die grumoorde op twee ander lede van die boerderygemeenskap in Limpopo, mnre. Piet Smit en Magiel de Lange. Meer skokkend was egter die nuus dat Levy, ‘n man met 14 uitstaande aanklagte teen hom, wat onder meer insluit roof, gewapende roof, verkragting, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en huisbraak, op 16 Oktober op borg vrygelaat is. Hy is saam met sy broer George Baloyi (21) en die 20-jarige George Nkhinika aangekeer en aangekla ná ‘n inbraak en roof op die plaas van mnr. Willie Malan van Beja op 27 Junie verlede jaar. Hulle is ook verbind met die gewapende roof en aanval op die Lourens-egpaar by die Beja Hengeloord op 12 Mei verlede jaar. Hy moes hierdie week weer in verband met dié twee sake in die hof verskyn.
Op ‘n vraag waarom Levy op borg vrygelaat is, het ‘n betroubare bron binne die departement van justisie gesê dit kan toegeskryf word aan swak speurwerk deur die polisie se ondersoekbeampte in die saak. Ongelukkigheid rondom die ondersoekbeampte se hantering van die saak was ook duidelik te bespeur tydens Levy se verskyning in die hof op Louis Trichardt op Maandag, 12 November. Die streekhof-aanklaer in die saak het daarop aangedring dat die huidige ondersoekbeampte onmiddellik vervang moet word. Levy se saak is uitgestel tot Maandag, 3 Desember, vir verdere verhoor.
Intussen gaan dit goed met mnr. Erasmus. Sy skietwonde herstel vinnig, maar die emosionele letsels sal bietjie langer vat om te herstel. Die egpaar het in ‘n telefoniese onderhoud gesê dinge kon baie erger gewees het en hulle is bly dat hulle redelik "lig" van die aanval afgekom het. Hulle het hul dank uitgespreek teenoor Beaufort Sekuriteit vir hul vinnige optrede, kapt. Nemavhola en haar span van die Levubu SAPD vir al hul oproepe en terugvoer, asook teenoor die gemeenskap vir hul oproepe, boodskappe en ondersteuning. Dank is ook uitgespreek teenoor dr. Wim de Villiers en die personeel van die Zoutpansberg Privaat Hospitaal.

ADVERTISEMENT:
