ADVERTISEMENT:

 

Die jong Victoria Stadler (25) wat in November 2005 vermoor is.

Geregtigheid sal geld, sê ma van vermoorde

 

News  Date: 16 November 2007

 

"Ek het volle vertroue in die regspan en die regter in die saak en is bly dat die hele aangeleentheid besig is om in ‘n rigting te beweeg," het Hannetjie Stadler van Louis Trichardt vandeesweek gesê oor die hofsaak in Knysna, waarin ‘n 25-jarige man verskyn in verband met die moord op Hannetjie se dogter, Victoria.

"Dit is vandeesweek presies twee jaar gelede dat hulle Victoria gevind het," het Hannetjie in ‘n telefoniese onderhoud gesê.

Heinrich van Rooyen (25) word in die saak aangekla van die moord op twee jong vroue, Jessica Wheeler (19) op 13 Oktober 2005, en Victoria Stadler tussen 10 en 13 November 2005.

Dit was op Dinsdag, 15 November, 2005, dat Hannetjie die skoknuus ontvang het dat haar enigste kind vermoor is. Victoria het haar skoolloopbaan by Ridgeway College op Louis Trichardt voltooi en toe in Port Elizabeth gaan studeer. Sy was ‘n tweedejaar student aan die Universiteit van Port Elizabeth, toe sy op 9 November vermis geraak het in Port Elizabeth. Haar uitgebrande voertuig is later in die veld naby die Knysnawoud gevind. Die polisiesoektog is daarvandaan uitgebrei en Victoria se lyk is kort daarna ook gevind – in dieselfde area waar Jessica Wheeler se liggaam ‘n maand vantevore aangetref is.

In die moordsaak wat verlede week op Knysna begin het, is onder meer die verslae van die nadoodse ondersoeke en ander forensiese getuienis deur die Staat ingedien, wat op die dood van altwee die meisies betrekking het, hoewel die Staat hoofsaaklik getuienis gelei het oor die moord op Jessica Wheeler. Die fokus verskuif Maandag na die moord op Victoria. Die Staat sal na verwagting sy saak aanstaande Vrydag (23 November) afsluit. Die aanvanklike 162 getuies wat deur die Staat geroep sou word, is aansienlik verminder, nadat die beskuldigde sekere erkennings gemaak het.

Oor die beskuldigde in die saak sê Hannetjie daar was ‘n merkbare verandering in sy houding, sedert die uitslag van forensiese toetse en DNA ondersoek by die hof ingedien is.

"Of ek kwaad is vir hom? Nee. Die hof moet eers besluit of hy skuldig is."

Hannetjie, wat alleen op Knysna tuis is, het vandeesweek die hofsitting elke dag bygewoon.

"My oorheersende indruk uit die getuienis wat tot dusver gelei is, is die ontsettende wreedheid van die moordenaar teenoor sy slagoffers. Ek sit daagliks maar net en luister na dié riller. Mense het my daarteen gewaarsku, maar dis vir my beter om te weet. Victoria se dood is eintlik vir my nog heeltemal onwerklik."

Sy hou haarself intussen by haar verblyfplek besig.

"Gelukkig weet ek hoe om myself positief besig te hou en kalm te bly. Ek praat graag oor al die gebeure; dit help om alles uit jou sisteem uit te kry."

Hannetjie benader die hele aangeleentheid heel filosofies: "Ek hoop dat ek deur my gedrag ook vir ander ouers wat deur so iets moet gaan ‘n voorbeeld sal wees, dat die lewe nie eindig wanneer jy jou kind verloor nie. Daar was al baie ander voor my wat so ‘n verlies moes verwerk."

Sy het ‘n blymoedige vyfpunt lewensresep: "Jy moet vir God liefhê. Hou van jouself. Vergeef jou medemens. Lag minstens een keer elke dag hardop en gaan drink elke dag iewers by iemand tee of koffie."

Hannetjie hoop om Sondag, 25 November, weer op Louis Trichardt tuis te wees.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines