

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 November 2007
‘n Hond wat vir dae lank met ‘n stuk draad teen ‘n boomstam vasgepen was, is Saterdag, 10 November, deur lede van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Louis Trichardt van ‘n gewisse dood gered.
Die drama het sommer hier in die dorp afgespeel, nadat die DBV die oggend ‘n oproep ontvang het van ‘n inwoner wat gekla het oor ‘n hond wat onophoudelik tjank in die bosse aan die bopunt van Forestryweg.
Lede van die DBV het dadelik uitgery, maar na drie ure se soektog in digte bosse was hulle op die punt om die handdoek in te gooi.
"Ons was op die punt om vir die mense wat ons geskakel het te vra om maar weer te skakel indien hulle die hond hoor. Op pad terug het ons egter besluit om vir ‘n laaste keer te stop en te soek. Dit was toe dat ons die hond hoor, en kort daarna het ons haar gekry," vertel mev. Bea Reimer van die DBV.
Die teef, ‘n uitgegroeide boerboel-kruising, was letterlik met haar nek teenaan ‘n boomstam vasgedraai met ‘n stuk draad.
"Sy kon nie sit of lê nie, aangesien sy haarself sou verwurg het. Ek weet nie hoeveel dae die hond daar gestaan het nie. Die grond onder haar was stof getrap," sê Reimer.
Reimer-hulle het dadelik die draad losgesny.
"Toe ons daardie draad afsny, het die hond hoorbaar ‘n sug van verligting geslaak. Sy het doodeenvoudig net gaan lê."
Die teef was in daardie stadium so swak dat Reimer-hulle haar moes optel en na veiligheid uitdra.
Die hond is veearts toe geneem. Sy was totaal uitgehonger en gedehidreer. Haar bek was ook stukkend geskaaf teen die boomstam waarteen sy vasgevang was. Die veeartse is egter vol hoop dat sy ten volle van haar nagmerrie-ondervinding sal herstel. Tans herstel die teef by die DBV se hokke.
"Ek het al baie lelike dinge gesien, maar hierdie is seker een van die meer ernstige gevalle in Louis Trichardt die afgelope paar maande. Die hele ding is vir my ‘n raaisel. Ek weet nie of iemand die hond doelbewus daar gaan vasmaak het nie, en of die hond dalk in ‘n draadstrik beland het nie. Ons het al baie honde daar gaan uithaal wat in draadstrikke gevang is."
Reimer het inwoners gevra om haar te skakel indien hulle weet aan wie die hond behoort of selfs die eienaar, indien die hond vermis geraak het. Sy kan geskakel word by tel. 082 965 5151.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
