

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 November 2007
Het rassisties gedrewe onbevoegdheid by die SAPD bygedra tot die jongste plaasaanval op Levubu waarin ‘n inwoner en sakeman ernstig beseer is? Is die plaasaanval op die Erasmus-gesin uitgevoer deur dieselfde mense wat nooit aangekeer is ná die gewapende rooftog op die plaas Brazilia van mnr. J. Furstenburg nie?
‘n Senior verteenwoordiger van die TLU SA Noord en inwoners van Levubu, wat nog goed onthou hoe die skokkende De Jager-moord die kulminasie was van ‘n reeks misdade teen blanke inwoners en ‘n opvallende traagheid aan die kant van die SAPD om op dié misdade te reageer, vra ná die jongste plaasaanval opnuut vrae oor die huidige situasie en die amptelike gesindheid in die polisie se provinsiale kantoor in Polokwane. Dié skynbare gesindheidsprobleem was reeds aanleiding tot formele klagtes by die nasionale polisiehoof en by die Minister van Veiligheid en Sekuriteit.
Die voorsitter van TLU SA, mnr. Dries Joubert, het daarop gewys dat vyandiggesindheid teenoor blanke boere, soos wat amptelik gedemonstreer is met die berugte Musina-verklaring ten opsigte van optrede teen onwettige Zimbabwiese immigrante, tesame met optrede wat selfbeveiligingsaksies deur die landbougemeenskap bemoeilik, inderdaad ‘n aanmoediging is vir geweldpleging teen dié bevolkingsgroep.
Intussen is ook met misnoeë kennis geneem van die onmiskenbare indruk dat ‘n ondersoek deur die provinsiale kommissaris na beweerde onbehoorlike optrede van die stasiebevelvoerder op Levubu tydens die Furstenburg-aanval, òf nooit behoorlik plaasgevind het nie, òf dat die bevindinge bloot onder die mat ingevet is.
Dié beweerde amptelike ondersoek na ‘n insident, waar die stasiekommissaris na bewering ingemeng het in die ondersoek en Furstenburg, die klaer in ‘n gewapende roofklag, daarvan beskuldig het dat hy onder valse voorwendsels die rooftog versin het, het volgens alle aanduidings op niks uitgeloop nie. Dit is nie duidelik of die polisie hoegenaamd voortgegaan het om die beweerde rowers te probeer opspoor en of die klag intussen verander of laat vaar is nie. Daar is intussen ‘n sterk vermoede dat dieselfde rowers betrokke kon wees by die aanval op Kallie Erasmus en sy eggenote, weens die ooreenstemming in modus operandi.
Die gewapende rooftog in die vroeë oggendure van 21 Junie op die plaas Brazilia van mnr. Furstenburg is deur vier gewapende mans uitgevoer, wat na bewering die eienaar en ‘n werker sou vasgebind en in ‘n kluis toegesluit het, waarna hulle met die boer se voertuig en ‘n groot bedrag geld weggekom het. Na bewering is daar tevergeefs probeer om die polisie op Levubu te aktiveer. ‘n Werker moes glo einde laaste fisies die polisie gaan haal. Mnr. Furstenburg, wat saam met ‘n vennoot piesang rypmaakkamers op die plaas bedryf, is glo ná die voorval na die polisiestasie ontbied, waar die stasiekommissaris – nie die ondersoekbeampte nie - hom na bewering op ‘n intimiderende wyse ondervra en allerlei beskuldigings toegevoeg en in een stadium selfs met arrestasie gedreig het.
Nóg die polisie se kommunikasiebeampte op Levubu, nóg die streekkantoor op Thohoyandou het destyds enige inligting oor dié ernstige beweerde misdaadvoorval (gewapende roof) aan die media deurgegee. Die kantoor op Thohoyandou het ‘n medianavraag na die provinsiale kantoor in Polokwane verwys. Senior polisie superintendent Ronel Otto van dié kantoor het op 27 Junie, na aanleiding van die navraag en die klag teen die stasiekommissaris, gesê die aangeleentheid word onder die aandag van die Provinsiale Kommissaris gebring en "alle omstandighede rondom die hele aangeleentheid sal ondersoek word."
Op 17 Julie het sy by navraag gesê daar is nog geen nuus oor die ondersoek nie. Op 25 Julie het sy ná ‘n herhaalde navraag gesê sy probeer nog uitvind watter vordering met die ondersoek gemaak is. Sedertdien is geen verdere reaksie oor die aangeleentheid of op die herhaalde navrae ontvang nie.
Dit is gevolglik nie duidelik wie se weergawe van die gebeure deur die SAPD op Levubu ondersoek is en of dié ondersoek onderhewig was aan die uitslag van die beweerde ondersoek deur die Provinsiale Kommissaris nie.
‘n Onmiskenbare indruk van rassisties-gedrewe onbevoegdheid by die Levubu polisiekantoor en amptelike dowe ore in Polokwane het in die verlede tot amptelike ingryping deur die destydse LUR van Veiligheid en Sekuriteit gelei, maar eers ná die opspraakwekkende De Jager-moord op Levubu. Dit was aanleiding tot die verplasing van senior personeel en oënskynlik ‘n tydelike gesindheidsverandering by die polisiestasie.
Joubert het in ‘n media verklaring na aanleiding van die Erasmus-aanval gewys op die opvallende ooreenkoms in die modus operandi van die aanvallers in die Furstenburg-roof en die plaasaanval op die Erasmus-gesin. Hy het skok uitgespreek en daarop gewys dat die aanvallers op Furstenburg nog nooit aangekeer is nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
