ADVERTISEMENT:

 

Malaria-gevaar aan die toeneem

 

News  Date: 23 November 2007

 

Ernstige uitbrekings van malaria kan weer in die huidige seisoen in Limpopo verwag word. Inwoners word gewaarsku om bedag te wees op die gevaar van dié dodelike siekte en die nodige voorsorg te tref.

Tussen 3 000 en 6 000 gevalle van malaria word jaarliks in Limpopo aangemeld. Dit kom seisoenaal veral in die somermaande voor.

Gedurende September vanjaar is 311 malaria-gevalle in Limpopo aangemeld, met 367 in Oktober. Dit is ‘n effense toename in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, toe besonder min gevalle aangemeld is. Verlede jaar was daar 185 gevalle in September en 315 in Oktober. Vir die huidige maand (November) is net 85 gevalle in die eerste twee weke aangemeld.

Goeie reënneerslae in die malaria gevaargebiede in die provinsie skep ideale omstandighede vir die uitbroei van muskiete en, ongeag die grootskaalse, deeglike voortgesette bestrydingsmaatreëls wat deur die owerhede onderneem word, is uitbreking van hierdie dodelike siekte, wat deur muskiete oorgedra word, steeds moontlik. Dit kan selfs voorkom op plekke wat buite die geïdentifiseerde gevaarareas val. Sogenaamde "ingevoerde" gevalle van malaria kom by geleentheid voor in areas wat betreklik ver verwyder is van die gevaargebiede, wanneer besmette malariamuskiete in vervoermiddels skuil wat vanuit die gevaargebiede daarheen inbeweeg.

Die Departement Gesondheid se bestuurder: malariabeheer in Limpopo, mnr. Phillip Kruger, sê die belangrikste boodskap in hierdie stadium is dat malaria ‘n voorkombare en geneesbare siekte is. Samewerking met spuitspanne in die hoë-risiko gebiede is van die opperste belang om toe te sien dat woonhuise bespuit word.

Algemene voorsorgmaatreëls is om binnenshuis te bly tussen skemeraand en dagbreek. As mense buite moet rondbeweeg, behoort hulle langmou klere te dra om onbedekte vel te beskerm. Woonhuise behoort ook binne met ‘n geskikte aërosol spuitmiddel vir vlieënde insekte bespuit te word teen skemeraand, veral in slaapkamers, nadat die vensters toegemaak is. Muskietwerende spirale of matjies kan ook deurnag gebrand word in die algemene leefareas. ‘n Muskietnet oor die bed en aan die kante ingedruk onder die matras bied ook goeie beskerming. Mense wat van buite besoek bring aan hoë-risiko gebiede kan anti-malaria medikasie gebruik om hulle teen die siekte te beskerm. Elkeen behoort sy eie geneesheer hieroor te raadpleeg.

Mense moet ook bewus wees van die simptome van malaria

Die eerste gevaartekens is naastenby dieselfde as dié van griep, naamlik ernstige hoofpyn, lyfseer, gewrigspyne en koors, kouekoors, naarheid, diarree en uitputting. As hierdie simptome voorkom, moet die pasiënt onmiddellik mediese aandag kry – by ‘n kliniek, mediese sentrum, hospitaal of by ‘n geneesheer. Die feit dat die pasiënt uit ‘n hoë-risiko gebied kom moet duidelik onder die aandag gebring word. Die pasiënt moet dan onmiddellik vir malaria getoets word (dring aan op ‘n bloedtoets). In die meeste gevalle sal die ondersoek van ‘n bloedsmeer die aanwesigheid van die malariaparasiet kan bevestig. As dit nie onmiddellik sigbaar is nie, moet verdere bloedmonsters ondersoek word voordat aanvaar word dat daar geen besmetting is nie, aangesien vals negatiewe uitslae dikwels aanvanklik voorkom. Gepaste behandeling moet dadelik begin as besmetting vasgestel is.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines