ADVERTISEMENT:

 

Tonne makadamia neute op Levubu moes vanjaar weggegooi word weens swak kwaliteit. Foto verskaf.

Statistiek wys hoe ekonomie op Levubu as gevolg van grondeise ly

 

News  Date: 23 November 2007

 

Skokkende statistieke wat die breë ekonomiese impak van die grondeise op Levubu weerspieël, is tydens die boeredag op Levubu op 7 November weergegee. Daar is egter ook diegene wat voel dat die waarde van die strategiese vennote op Levubu nie onderskat moet word nie.

Dit is reeds geskiedenis dat die Levubu grondeise in 2000 gepubliseer is en dat 55 boere as vrywillige verkopers 80 plase aangebied het. Die oordrag het eers teen die einde van 2005 en aan die begin van 2006 plaasgevind. Die lang gesloerdery van die regering het tot gevolg gehad dat die boerdery op baie van daardie plase verval het en is waarskynlik ook ‘n groot oorsaak van huidige swak oeste.

Die samestellers van die inligting wat met ondersteunende foto’s by die boeredag aangebied is, is mnre. Piet Muller, makadamia en avokadostudiegroepleier, en Steven Hoffman, uittredende voorsitter van die Levubuvallei Boerevereniging.

Ekonomiese impak

"Avokado en lietsjie uitvoerpakhuise ervaar reeds die druk van dalende volumes omdat genoegsame volume om eenheidskoste laag te hou krities is vir hulle voortbestaan. Die gemiddelde aantal uitvoerkartonne vir die laaste twee jaar toon ‘n daling teenoor drie jaar gelede van 63.5% en 38,5% vir lietsjie en avokado’s onderskeidelik. Dit verteenwoordig ‘n daling in inkomste van ongeveer R8 tot R10 miljoen vir die gebied vir avokados en lietsjies.

"Wat makadamias betref, is groot hoeveelhede neute van oorgeneemde plase vanjaar by fabrieke weggewys weens kwaliteitsprobleme. Weereens is akkurate syfers nie beskikbaar nie, maar syfers so hoog as 700 ton word genoem. Indien ‘n syfer van 400 ton aanvaar word, is die verlies in die omgewing van R3 tot 4 miljoen," lui die verslag.

Daar is ook aangetoon dat kontantgewasse ‘n daling getoon het vanaf meer as 200 ton na 40 ton per week. Dit verteenwoordig ‘n daling in inkomste van R8 tot R12 miljoen per jaar.

"Vir piesangs is dit vir my onmoontlik om ‘n raming te maak, maar piesangs is baie gevoelig vir swak bestuur en geoordeel aan die visuele agteruitgang waarneembaar in die boorde, moet dit substansieel wees.

"Ek sou dus kan raam dat die totale verlies aan inkomste vir die gebied baie konserwatief gereken iewers tussen R30 tot R50 miljoen per jaar kan wees," het Muller gesê.

Intussen sê die produksiebestuurder van die noordelike streek van strategiese vennoot SAFM (South Africa Farm Management), mnr. Danie Basson, dat daar definitief lig aan die einde van die tonnel is. SAFM bestuur sowat 2 000ha van die gemeenskappe Masekona, Ravele Tshakuma en Tsitswane gemeenskappe. In die noordelike streek bestuur hulle altesaam 5 000ha, waaronder Zebediela, wat nou begin wins wys.

"In Levubu is ons besig om die plase reg te kry dat dit lewensvatbaar is, nadat daar vir drie jaar geen insette in die grond gelewer is nie. Ons het in Julie begin en die ontwikkeling wat net oor die afgelope ses maande plaasgevind het, is astronomies. Ons het reeds 15 nuwe trekkers gekoop en ses nuwe spuitkarre. Ons voorsien self die geld; daar is niemand wat ons dra nie. Om die kapasiteit van die grond weer reg te kry, kos meer as om dit in stand te hou," sê Basson. Wat die piesangs betref, het SAFM reeds 50ha voorberei om die volgende twaalf maande 400ha piesangs te vestig.

Wat die neute betref, sê Basson dat van die plase vir drie jaar geen bespuiting gehad het nie en dat geen neute opgetel is nie. Die neute moes opgetel word en weggegooi word. Verder sê hy dat die hele omgewing se kwaliteit neut swakker as gewoonlik was.

"Van die swak sitrusboorde is al klaar weer pragtig gesnoei," sê Basson.

Arbeid

"Boerdery in Levubu is arbeidsintensief en die waarneming is dat die oorspronklike boere heelwat meer arbeid in diens gehad het as wat die strategiese vennote tans in diens het. Net na die proklamering van die eis is ’n opname gedoen wat getoon het dat boere ongeveer een arbeider vir elke twee hektaar grond in diens het. Aanduidings is dat die strategiese vennote tans in die omgewing van een arbeider vir elke 8 tot10ha in diens het," het Muller op die boeredag gesê. Een van die drie strategiese vennote wat al ‘n rol gespeel het, SAFM, sê dat hulle vir elke hektaar piesangs een arbeider het en vir neute een arbeider vir elke vier hektaar. Die eerste strategiese vennoot, MAVU, het onttrek.

Negatiewe impak

Die geweldige negatiewe impak van die verlies van 55 boere in Levubu kan nooit weggeredeneer word nie. Op die boeredag is genoem dat die ekonomiese impak werksverlies, die vernietiging van kapasiteit en die vernietiging van ondernemerskap ingesluit. Die negatiewe impak op die gemeenskap sluit in die onsekerheid, die veiligheidsituasie, die toename in gemeenskapsprobleme, die finansiële druk op gemeenskastrukture en die risiko dat die mense verbitterd kan word.

Positiewe aspekte

Eensgesindheid, ‘n groter geestelike belewenis en entrepreneursgeleenthede is op die boeredag genoem as positiewe aspekte.

Hierdie week het een ervare boer gesê: "Ek sien die strategiese vennote as ’n positiewe aspek. Ons is dankbaar vir hierdie mense. Hulle help ons om te oorleef. Hulle skep ‘n buffer. As dit nie vir hulle was nie, het plakkerskampe gedy op Levubu en was dit die einde ekonomies."

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines