ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Ben Harris van die plaaslike tak van die ATKV het op Louis Trichardt ‘n sertifikaat oorhandig aan me. Elsa Krügell, veteraan onderwyseres in Afrikaans aan die Hoërskool Louis Trichardt. In die foto is, van links na regs, mnr. Harris, me. Krügell, haar eggenoot, mnr. Jan Krügell, en mnr. Ferdi Vorster, bestuurslid van die plaaslike ATKV.

ATKV geen erkenning aan Afrikaanse onderwyseres

 

News  Date: 23 November 2007

 

Die ATKV het ‘n spesiale toekenning oorhandig aan ‘n plaaslike onderwyseres vir haar besondere langtermyn bydrae tot die Afrikaanse taal.

Die toekenning is verlede Vrydag oorhandig aan me. Elsa Krügell, onderwyseres in Afrikaans aan Hoërskool Louis Trichardt. Sy tree vanjaar met pensioen uit die diens van die Departement van Onderwys.

Me. Krügell het vir 33 jaar Afrikaans onderrig, waarvan sy 31 jaar as senior onderwyseres in Afrikaans aan die Hoërskool Louis Trichardt verbonde was.

Sy het Afrikaans op ‘n besondere hoë peil onderrig, waarvan haar puik matriekuitslae oor die jare getuig. Dit blyk ook uit die agting wat sy van taalkollegas ontvang. Haar ontledings van die voorgeskrewe verhale en gedigte vir Afrikaans word hoog aangeskryf en is vandag gesogte items in die vaklêers van talle onderwysers wat Afrikaans onderrig. Oudleerlinge van Hoërskool Louis Trichardt getuig van haar goeie onderrig en gesteldheid op die korrekte gebruik van Afrikaans.

Benewens die onderrig van Afrikaans, het sy in die onderwys in die algemeen ‘n groot bydrae gemaak tot die behoud en uitbouing van Afrikaans. In ‘n tydperk van verengelsing van die Departement van Onderwys en die totstandkoming van ‘n Engelse eenheid in die skool, het sy deur haar voorbeeld van gebruik van Afrikaans en haar aandrang op die gebruik van Afrikaans waar moontlik, talle onderwysers en leerlinge gemotiveer om die gebruik van Afrikaans te bevorder.

Me. Krügell het aan die Potchefstroomse Universiteit, die Universiteit van Suid-Afrika en die Potchefstroomse Onderwyskollege studeer. Sy het die grade BA, BA Honneurs en MA in Geskiedenis behaal, asook ‘n Hoër Onderwysdiploma.

Die voorsitter van die plaaslike tak van die ATKV, mnr. Ben Harris, het Vrydag ‘n sertifikaat as blyk van waardering vir Me. Krügell se bydrae tot Afrikaans aan haar oorhandig.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines