

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 November 2007
Tant Hanna het haar laaste kooksel seep in haar reuse seeppot gekook. Daarmee eindig haar tradisie van amper ‘n halwe eeu se seepkook op Louis Trichardt.
Tant Hanna Terblanche (76), vroeër De Jager, was alombekend en bemind as matrone van die Louis Trichardt Laerskool se koshuis. In haar 17 jaar by die koshuis was die seepkokery nou eintlik die oorsaak dat die linne en kinders se wit kouse altyd "melkwit" was.
"Jy kan sommer die verskil sien, " sê tant Hanna.
Die afgelope week het Tant Hanna drie kooksels gemaak.
"Ek was byna dood! Jy kook twee dae aan een kooksel. Jy moet dit in jou lyf hê om dit te kan doen. Maar so lank as ek die pot het, sal ek seep kook. Daarom gaan die pot nou saam Witbank toe na my seun, Awie de Jager, wat in seepkook belangstel," het tant Hanna op 20 November gesê.
Tant Hanna woon al van 1959 in Louis Trichardt. Van die De Jagers se ses kinders het Pierre weer vir ‘n tyd op Louis Trichardt kom woon en ook haar dogter, Hannatjie Boshoff, by wie tant Hanna tans woon. Haar seepkook het begin toe seun Awie nog net langs die seeppot kon kruip. Dalk het die seepkook daar in sy bloed gekom.
Tant Hanna verkies beesvet want dit maak die lekkerste seep. Sy het by die destydse hoof van die laerskool, mnr. Johan Otto, toestemming gekry om al die vetjies te bêre. Dit het sommer die voordeel gehad dat die koshuis se dreins dan nie verstop het van die vet nie. Die afval vet is gebêre in blikkies tot dit genoeg was vir die emmers.
"Ek kook die pot vandag en laat dit vannag net so staan. More is dit koud en dan sny jy uit. Jy haal net die seepstene uit. Die loog wat onder is, is deel van die seepsoda en kan weer en weer gebruik word. Die seepblokke vee ek met ‘n natlap af om die loog af te kry," sê tant Hanna. Daar pas 20 blokke seep in ‘n bierboks en een kooksel lewer agt bierboksies vol, dus so ‘n 160 blokkies. Daarvan deel tant Hanna gewoonlik die meeste uit.
"Niks kom naby boerseep nie. Die spuitgoed vir die krae werk nie naastenby so goed nie. En vlekke, beet of bloed, dit haal dit net so uit. Ek het grootgeword met boerseep," sê tant Hanna.
Dat tant Hanna die seep net reg wil hê en sal aanhou tot dit perfek is, word gou duidelik. In die snikhete son staan sy en roer daardie seeppot.
"Hierdie laaste kooksel het ek Vrydag gekook en Saterdag weer. Dit het aanvanklik pragtig gelyk, maar toe ek dit Maandag uitsny, toe lyk dit nie mooi nie," sê tant Hanna. Sy skryf dit toe aan die samestelling van die vet wat sy gebruik het, wat meer uit kookolie, vark en hoendervet bestaan het. Die seep gaan nou op Witbank terug in die pot en weer gekook word saam met addisionele beesvet en loog.
"Dan sal die seep reg wees," sê tant Hanna.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
