ADVERTISEMENT:

 

Ontbinding van kerk verwerp

 

News  Date: 05 November 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die Ring van Louis Trichardt het by sy vergadering van 21 Augustus eenparig besluit om ‘n model van kerkeenheid te verwerp waar die N. G. Kerk moet ontbind om deel te word van ‘n nuwe kerkverband.

Kerkrade is versoek om die Ring se besluite te bestudeer en elk ook ‘n standpunt oor die ontbinding van die N. G. Kerk in te neem.

In sekere kringe in die familie van N. G. Kerke word dit as ‘n gegewe aanvaar dat die N. G. Kerk in sy huidige vorm sal moet ontbind, om saam met die ander lede van die familie van N. G. Kerke deel te word van ‘n nuwe kerk met ‘n nuwe naam. Die regsimplikasies van so ‘n stap is enorm en dit is duidelik nog nie behoorlik deurdink en vir kerkvergaderings uitgespel nie.

“In die huidige debat oor kerkeenheid is daar partye wat die indruk skep dat die bestaan van die N. G. Kerk, as selfstandige kerk naas ander kerke, sonde is. Kerkvergaderings en lidmate wat ‘n ander mening huldig, se gehoorsaamheid aan die Here word verdag gemaak. Die Ring verwerp die morele verwyt dat die N. G. Kerk aan die Here ongehoorsaam is as hierdie een spesifieke model van sigbare kerkeenheid nie gevolg word nie, ten opsigte van net een groepering van kerke met dieselfde belydenisgrondslag as ons. ‘n Eerlike poging tot kerkeenheid moet sigbare, strukturele eenheid met die Susterskerke ook insluit,” lees ‘n verklaring uitgereik deur die Ring van Louis Trichardt.

Die Ring van Louis Trichardt het hom eenparig verbind tot sigbare kerkeenheid in die familie van N. G. Kerke, maar sonder die ontbinding van die N. G. Kerk. Die volgende model vir sigbare eenheid in die familie van N. G. Kerke word voorgestel: Gemeentes, ringe en sinodes behoort die reg gegee te word om aan meer as een meerdere vergadering te behoort.

“In die praktyk kan ons ringsgemeentes dan soos normaalweg konstitueer in die N. G. Kerk se Ring van Louis Trichardt. Maar dieselfde gemeentes behoort ook die reg hê om in ‘n tweede, gesamentlike Ring te konstitueer saam met gemeentes van die VGK, NGKA en RCA in hulle omgewing, as sigbare uitdrukking van kerkeenheid. In hierdie model lê die gesag en besluitneming by ge-meentes en nie by die Algemene Sinode nie. Die proses groei van onder af en geen besluite word van bo af op gemeentes afgedwing nie. Daar is in hierdie model geen risiko dat die poging tot kerkeenheid tot kerkskeuring kan lei nie. Plaaslike gemeentes besluit hoe hulle uitdrukking wil gee aan kerkeenheid. Ringe behoort op dieselfde wyse in meer as een Sinode te kan konstitueer en sinodes in meer as een Algemene Sinode,” lees die verklaring verder.

Die Ring van Louis Trichardt het belangstellendes uitgenooi om met hulle in gesprek te tree oor hierdie onderwerp. Vir meer inligting kan die volgende predikante wat op die Ringskommissie dien geskakel word, naamlik ds. Petrus Kriel by tel. (015) 583 0020, ds. Bertus Badenhorst by (015) 575 1215 of ds. Willem Boshoff by (015) 516 0349.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines