ADVERTISEMENT:

 

Waardeer die water!

 

News  Date: 30 November 2007

 

‘n Kontrakteur betrokke by die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam, mnr. Henk de Swardt, het vandeesweek skerp tevelde getrek teen mense wat, soos hy dit noem, "niks weet van watersuiwering nie" maar steeds kritiek wil lewer oor die kwaliteit van die dorp se drinkwater. Hy het veral ‘n klap uitgedeel na mense wat die situasie moontlik probeer uitbuit.

De Swardt, van Belta Services CC, die maatskappy wat aangestel is om opgraderings- en instandhoudingswerk te verrig by die Albasinidam, se boodskap was eenvoudig.

"Daagliks drink ons liters water waar ons werk en nog nie een van ons was een dag siek nie. Volgens alle toetse wat op die water uitgevoer word, voldoen dit aan SABS standaarde," sê De Swardt. Soortgelyke uitsprake is die afgelope paar weke deur die dorp se munisipale bestuurder gemaak, maar steeds het baie inwoners skepties gebly.

Sedert die ontstaan van die kontroversie ‘n paar weke gelede, toe ‘n lid van die Soutpansbergs Belastingbetalersvereniging (SBBV) op nasionale radio aangevoer het dat die munisipale drinkwater ongeskik is vir menslik gebruik, moes die Makhado Munisipaliteit behoorlik bontstaan om die teendeel te bewys. Die SBBV het dié aankondiging gedoen nadat onafhanklike toetse op die dorp se waterkwaliteit uitgevoer is deur ‘n lid van die Universiteit van Venda se mikrobiologiese waternavorsingslaboratorium. Dié toetse sou toon dat die gevreesde E.coli bakterieë in watermonsters voorgekom het. Sowat twee weke gelede het die munisipaliteit, aan die hand van hul eie toetse wat uitgevoer is deur die nasionale gesondheidslaboratorium, gesê die dorp se water is wel geskik vir menslike gebruik.

Dat die waterkwessie ‘n hoogs emosionele aangeleentheid is, is duidelik. Beriggewing in die plaaslike media is opgevolg met talle briewe van inwoners wat hul kommer uitspreek en teorië opper oor die dorp se waterkwaliteit. Meer onlangs het ‘n agent wat watersuiweraars verkoop in ‘n brief gekla oor die "oordosering" van chloor in die drinkwater.

De Swardt se reaskie volg juis aan die hand van dié brief. Hy was baie krities oor die brief en het gesê inwoners moet versigtig wees vir mense wat moontlik probeer om die situasie uit te buit, veral met betrekking tot watersuiweraars. De Swardt sê mense wat watersuiweraars bemark gebruik reeds-gesuiwerde water van die Albasinidam met geen bakterieë daarin nie, net om dit weer te suiwer.

"Hoekom gaan skep julle nie eerder water by die dam nie en dan suiwer julle ‘geleerdes’ die water deur kamstige chemikalie-vrye metodes nie? Nee, want julle gebruik reeds veilige water uit die krane by huise," sê De Swardt.

De Swardt het gevra dat inwoners die werk moet respekteer wat by die watersuiweringsaanleg gedoen word.

"Die produksie van die aanleg is ongeveer 10 miljoen liter water per dag. Om dieselfde hoeveelheid water te suiwer op dieselfde manier sal duisende eenhede watersuiweraars nodig wees, wat dit totaal onprakties en onrealisties maak," sê De Swardt.

Wat die klagte oor die baie chloor in die dorp se drinkwater betref, het De Swardt eerstens verduidelik dat die toediening van chloor noodsaaklik is.

"Wat dit soms moeilik maak, is wisseling in temperatuur soos ons tans ervaar. Die proses moet deurlopend aangepas word," sê De Swardt. Wat betref gevalle waar oormatige chloor in die water kan voorkom, het De Swardt gesê dat inwoners bloot die water vir ‘n rukkie moet laat staan.

"Al die chloor sal verdamp," sê De Swardt. In dieselfde asem noem hy dat streng riglyne gevolg word ten opsigte van chloortoediening om dit binne die SABS standaard te hou.

Wat hul werksaamhede by die watersuiweringsaanleg betref, beloop die koste van die projek reeds sowat R1,5 miljoen en is Belta Services reeds sedert Maart werksaam daar.

"As kontrakteur is ons reeds besig met verskeie aanlegte in die Vhembe area, wat die Albasinidam insluit. Die werk sluit in die opgradering en vervanging van toedieningstoerusting, die toediening van sand en antrasiet, asook die vervanging van spuitkoppe, die diens en herstel van alle meganiese en elektriese toerusing en die herkalibrering en vervanging van laboratorium toerusting," sê De Swardt.

Vir enige navrae het De Swardt inwoners uitgenooi om hom te skakel by tel. 083 447 4712.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines