ADVERTISEMENT:

 

Hond se byt duurder as sy blaf

 

News  Date: 30 November 2007

 

Eienaars van honde moet onthou dat hulle aanspreeklik bly vir die skade wanneer hulle honde mense byt.

Daar kom op gereelde basis ernstige en minder ernstige voorvalle van hondbyt in die omgewing voor.

"Ek het al baie hondbyt sake gedoen," sê plaaslike prokureur mnr. Kerneels Kern.

Verlede jaar is klein Maritza van Niekerk ernstig verniel deur ‘n hond, ‘n boerboelkruising, terwyl sy op ‘n rondomtalie in ‘n pretpark op die dorp gespeel het. In 2003 was die jong Elmay Buys ‘n bebloede bondel na drie Rottweilers haar op Buysdorp aangeval het. Sy was gelukkig om met haar lewe daarvan af te kom. Berna Daly, ‘n comrades atleet wat vir ‘n tyd op die dorp gewoon het, is deur ‘n boerboel gebyt terwyl sy gedraf het en dit het haar ernstig benadeel.

In ‘n onlangse hondbytvoorval op 10 November is me. Aldi O’Connor deur ‘n worshond aan die kuit gebyt en die wond het septies geraak.

"Om te dink ek het altyd Rottweilers gehad en hulle het my nooit gebyt nie, nou byt ‘n klein worshondjie my," sê me. O’Connor. Ten spyte van die klein hondjie en een klein tandjie wat regtig die vel binnegedring het, het die wond moeilikheid gemaak en meer as een dosis antibiotika was nodig. Gelukkig volg daar nie enige regsake in die geval nie, want die hondjie behoort aan vriende, wat baie sleg gevoel het toe hulle uitvind dat hul hondjie ‘n verkeerde hap geneem het.

"Hulle was baie jammer en het dadelik aangebied om die kostes te dra," sê O’Connor.

Die dag ná die worshondjie gehap het, het ‘n hond ‘n stapper in President Steynstraat gebyt. Die hond was maer genoeg om deur die palissade heining van sy eienaar te kom en het na die oorkant van die straat beweeg. Intussen het ‘n bruin hond wat eerste op dieselfde manier uit die erf gekom het, die stapper van voor af besig gehou met ‘n geknor en ‘n geblaf. Die ander hond het skelm van agter gekom en net onder die kuit gebyt, waarop hy teruggehardloop het na die erf. Terwyl die stapper mediese versorging ontvang het, het ‘n ooggetuie die eienaar gekonfronteer en die skuldige hond aan hom uitgewys. Die volgende dag het die polisie verklarings kom afneem en in gesprek met die slagoffer, ooggetuie en eienaar van die hond getree. Die dag daarna was die hond nie meer te siene in die erf van die eienaar nie.

Volgens dr. Anneke Malan sluit mediese behandeling die skoonmaak van die wond en ‘n klem-in-die-kaak inspuiting in, asook behandeling teen hondsdolheid indien daar ´n vermoede bestaan dat die hond dalk aan dié gevaarlike siekte gely het. Die behandeling sluit ‘n eenmalige inspuiting direk in die wond in, opgevolg deur ‘n hele reeks daaglikse inspuitings in die arm. Die behandeling kos ongeveer R3 000.

Uit ‘n regsoogpunt, beveel mnr. Kern aan dat ‘n hondbytsaak dadelik by die polisie aangemeld moet word en regshulp ingewin word.

"Die aanspreeklikheid van die eienaar van ‘n dier spruit uit die gemenereg. Daar is ‘n regsaksie en die eienaar is aanspreeklik as die dier buite sy natuur optree. Die eienaar is aanspreeklik vir die skade wat sy dier veroorsaak het," sê mnr. Kern.

Kern raai die gemeenskap eerstens aan om seker te maak dat hul assuransiepolisse hul dek vir gemeenregtelike aanspreeklikheid. Tweedens moet mense hul diere versorg sodat hul diere nie onnodig ander mense in gevaar stel nie.

"Jy as eienaar gaan daaronder ly as jy nie behoorlik na jou diere kyk nie," sê Kern. Hy kom ook vir die diere op wat deur die mens en sy klappers geterroriseer word.

"Ek voel dat enige een wat ‘n klapper in dorpsgebied laat afgaan, vervolg moet word."

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines