

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 November 2007
"Mense besef nie hoe maklik dit is om misdaad te voorkom nie," het Lukas Swart, voorste kenner op die gebied van identifisering en voorkoming van misdaadpogings, hierdie week gesê.
SATM (Suid-Afrika Teen Misdaad), ‘n organisasie wat pro-aktief werk om misdaad te voorkom en mense met kennis te bemagtig om ‘n misdaadinisiatief vooruit te identifiseer, is hard aan die werk in Louis Trichardt. Daar is alreeds meer as 200 mense wat aangesluit het. Sodra die getal op 300 staan, kan daar ‘n kantoor in die dorp gevestig word met ‘n persoon wat opgelei is in misdaadvoorkoming. Dit behels ook die lees van misdaadtekens om misdaadinisiatiewe te fnuik.
"Ons versprei nou ‘n DVD sodat mense in hul eie huise daarna kan kyk en self verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid kan neem. As die getal op 300 te staan kom, kan ons kursusse aanbied totdat die mense op ‘n vlak kom om self weer ander te bemagtig," het Swart gesê.
Die hele doel van SATM is om die kennis wat AKSKA (Afrika Kriminele Sosiale Kode Analiste) het, maksimaal tot op gemeenskapvlak te delegeer. AKSKA se vermoë om proaktief misdade te voorkom, lê in hulle vermoë om misdade korrek te voorspel. ‘n Beplande inbraak of aanval word reeds tydens die beplanningsfase geïdentifiseer. Misdadigers beplan hulle misdaad in die geheim en soek ook privaatheid vir die uitvoer daarvan.
"Ons leer mense hoe om die potensiële bedreiging te sien en hoe om daarteen op te tree," sê Swart. Meer inligting kan verkry word deur die webblad www.akska.co.za te besoek.
Mnr. Bertus Petzer van die Louis Trichardt inisiatief van SATM sê dat die dorpswag en plaaswag ongekende waarde aan die streek toevoeg.
"As hierdie twee inisiatiewe sou wegval, sal dit ‘n vakuum skep vir misdaad om te gedy. Met die SATM kantoor aan die kom op Louis Trichardt, sal ons ‘n inligtingstelsel hê om misdaad voortydig te identifiseer en voorbereid daarop te wees. Saam met die dorpswag en plaaswag se patrollies, dra ons almal by tot die beskerming van lewens en eiendom. Ons wil misdaad baie ver van ons dorp af wegdryf," sê Petzer.
Dr. Neels Roelofse, hoof van die Departement Kriminele Regspleging aan die Universiteit van Venda, sê die dorpswag en plaaswag wat op vrywillige basis funksioneer, is ‘n voorbeeld vir die res van die land. Dr Roelofse, wat as fasiliteerder by SATM se strategiese beplanning betrokke was, sê dat almal dieselfde saak dien en dat die ongemak tussen die polisie en die dorpswag ook besig is om te vervaag. Misdaadvoorkoming in die streek en provinsie is van die uiterste belang, aangesien "die Limpopo Provinsie die buffer is vir die ontvangs van verbode immigrante, nie net uit Zimbabwe nie, maar vanuit die hele Afrika," sê Roelofse.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
