ADVERTISEMENT:

 

Die voertuig voor die karwasplek aan die einde van die modderspore oor die teeroppervlak van Stubbsstraat, Louis Trichardt, was oomblikke tevore nog binne-in ‘n cliviabedding aan die oorkant van die straat.

Vrae oor voertuie se veiligheid by karwassery

 

News  Date: 07 December 2007

 

Nog ‘n voertuig, wat bestuur is in die afwesigheid van die eienaar, is beskadig by ‘n karwas-onderneming in Stubbsstraat op Louis Trichardt. Drie voertuie is reeds beskadig in die oënskynlik onbeholpe hantering van voertuie wat deur hul eienaars by die onderneming gelaat is om skoongemaak te word.

In die jongste voorval verlede week, is ‘n duur BMW uit die karwaslokaal teruggestoot, oor die sypaadjie, oor altwee die rybane van die bedrywige Stubbsstraat, oor nog ‘n sypaadjie tot in die tuin van die bekende Clivia-kweker, mev. Olive Brummer, aan die oorkant van die straat. Die voertuig is oor groot klippe, tot in ‘n cliviabedding teen ‘n beton tuinmuur, wat stukkend gestamp is. Die onderstel en agterwiel van die BMW is in die voorval beskadig. Die agterwiel was ná die voorval sigbaar skeef gebuig.

Die jongste voorval het vrae laat ontstaan oor die toesig en oor die bevoegdheid van die motorhanteerders by die wassery en of hulle hoegenaamd oor rybewyse beskik.

Talle leerlinge van die nabygeleë Soutpansberg Laerskool gebruik die betrokke gedeelte van Stubbsstraat en die sypaadjies daagliks op pad skool toe en terug.

Toe die SAPD by die ongelukstoneel opdaag, was daar vermoedelik ‘n omruiling van bestuurders van die ongeluksvoertuig. Nadat die polisie een personeellid van die karwasonderneming opgelaai het vir ondervraging, het ‘n omstander die polisie se aandag gevestig op die feit dat dit ‘n ander lid van die personeel was wat gedurende die ongeluk agter die stuur van die voertuig was.

Mev. Brummer het by navraag gesê dit is nie die eerste keer dat ‘n voertuig vanuit die karwasplek ‘n ongeluk daar veroorsaak nie. Etlike maande gelede het ‘n voertuig vanuit die karwasplek vasgery teen ‘n ander voertuig in Stubbstraat. Altwee die voertuie is in die voorval beskadig.

Die eienaar van dié voertuig wat toe in Stubbsstraat gestamp is deur die voertuig wat uit die wasplek teruggestoot is, me. Hettie Roets, sê die eienaar van die wasplek, mnr. Takalani Makananisa, het aanvanklik verantwoordelikheid aanvaar vir die volle bybetaling op haar verassureerde voertuig. Die bedrag het R1 200 beloop. Hy het egter net R500 betaal en by navraag glo beweer hy het nie genoeg geld om die res van sy verantwoordelikheid na te kom nie. Daar was ook heelwat skade aan die gewaste voertuig, waarmee die ongeluk veroorsaak is.

Toe mnr. Makananisa vandeesweek telefonies genader is oor die jongste voorval, het hy gesê hy is in ‘n voertuig en kan nie praat nie. Met ‘n later poging, in afgespreekte tyd, was sy selfoon afgeskakel. In daaropvolgende oproepe is ‘n boodskap en ‘n volledige SMS-versoek om inligting aan hom gerig. Hy is in die SMS-boodskap versoek om te laat weet wat gebeur as ‘n voertuig wat nie verseker is nie, by sy karwasplek beskadig word. Hy is ook versoek om te laat weet watter stappe hy sedert die vorige insident gedoen het om ‘n herhaling van die beskadiging van voertuie by sy wasplek te voorkom en of hy sy volledige belofte teenoor Me. Roets reeds nagekom het.

Mnr. Makananisa het tot en met druktyd nie op dié herhaalde navrae gereageer nie. Hy is ‘n raadslid in die Makhado Munisipale Raad.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines