

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 December 2007
‘n Groep gewapende rowers het Donderdag, 29 November, ‘n gewaagde rooftog uitgevoer by Palm Motors op Louis Trichardt, maar op die ou end met ‘n leë geldtrommel op die vluggeslaan.
Drie rowers het ‘n sekuriteitsbeampte van RRS Security met ‘n vuurwapen oorrompel toe hy gegaan het om ‘n geldtrommel by die onderneming op te laai. Die sekuriteitsbeampte is buite ingewag en toe hy uitstap, is ‘n pistool in sy gesig gedruk. Die rowers het die geldtrommel (wat leeg was) gegryp en in ‘n feitlik splinternuwe Ford Fiesta op die vluggeslaan.
Ten tye van die roof was ‘n polisievoertuig in die area op patrollie. Die polisiebeamptes is dadelik op die rowers se spoor en oomblikke later het die rowers die voertuig in Erasmustraat tot stilstand gebring waar dit doodloop teen die munisipale voëlpark. Hulle het uitgespring en is in verskillende rigtings die bosse in met die polisie kort op hul hakke.
Binne minute is een verdagte aangekeer. Die hulp van die honde-eenheid is ook ingeroep om te help met die opspoor van die ander twee verdagtes, maar sonder sukses.
Na die roof is daar vasgestel dat die rowers se voertuig kort vantevore in Seshego buite Polokwane gesteel is. Die leë geldblik is in die voertuig gevind.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het gesê die polisie het ‘n sterk vermoede gehad dat ‘n roof dié betrokke dag uitgevoer sou word. Hulle was egter nie seker of dit by Palm Motors of by Limpopo Melkery sou plaasvind nie. Kapt. Sadiki het teen druktyd gesê dat die man wat aangekeer is steeds in aanhouding is en deur die polisie ondervra word. ‘n Saak van gewapende roof, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en die besit van ‘n gesteelde voertuig word teen die verdagte ondersoek. Kapt. Sadiki sê hulle is vol hoop dat die ander twee verdagtes in die saak spoedig aangekeer sal word.

ADVERTISEMENT:
