ADVERTISEMENT:

 

Wyle Cathy Coetzee (76).

Glimlaggende tannie Cathy oorlede

 

News  Date: 05 November 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die glimlaggende mev. Cathy Coetzee (76) van Mobiele Etes se skielike heengaan op Vrydag, 29 Oktober, word betreur deur ‘n hele gemeenskap.

Tannie Cathy, wat op 25 Maart 1928 gebore is, was die leidster van Mobiele Etes (Meals-on-Wheels) en het haar met onblusbare geesdrif daarvoor beywer.

Sy het maar baie onlangs van ‘n hartprobleem bewus geword en het in die laaste week van haar lewe toetse ondergaan en behandeling ontvang. Vrydagaand het sy nog in die kar geklim om te gaan kuier en dit het gelyk of sy aan die slaap geraak het. Toe onraad bemerk is, het haar dogter haar hospitaal toe geneem, waar sy dood verklaar is.

Tannie Cathy was ook baie betrokke by die bejaardes van die gemeenskap. Sy was jare lank aktief by Gister-se-Jeug Dienssentrum en het daar vele bydraes gemaak tot die senior burgers. Met haar heengaan sal die klavier ook stil wees by die Dienssentrum, waar sy self ook ‘n koor gelei het. Sy het ook graag minderbevoorregte kindertjies gehelp.

Tannie Cathy en oom Dick Coetzee het hulle in die laat sewentigerjare in die omgewing gevestig. Sy was ‘n aantal jare by Agriven werksaam. In 1999 het oom Dick haar ontval.

Na haar aftrede het sy haar lewe toegewy aan dienswerk. Sy het in 1996 die leiding van die Mobiele Etes diens oorgeneem.

Haar familie, vriende en die gemeenskap sal haar onthou as ‘n sterk steunpilaar, wat onder alle omstandighede nooit moed opgegee het nie en altyd in die Here bly glo het. Met haar lewe van diensbaarheid was sy vir almal ‘n inspirasie. Sy het altyd ‘n goeie woord vir ander gehad en almal om haar opgebeur.

Tannie Cathy word oorleef deur twee dogters, Mariaan en Antoinette, vyf kleinkinders en ses agterkleinkinders. Haar begrafnis vind Vrydag, 5 November om 11:00 vanuit die Sewendedag Adventistekerk in Groblerstraat 80 plaas. Verversings sal daarna aangebied word by die AGS Kerksaal in Munnikstraat.

Die Mobiele Etes diensbestuurskomitee maak ook van die geleentheid gebruik om hul dank uit te spreek teenoor die gemeenskap vir die ondersteuning, finansieel en andersinds, wat oor die jare heen verskaf is. Die diens is weens die afsterwe van mev. Coetzee tydelik opgeskort, maar sal in Januarie 2005 hervat word.

Die familie het ook die wens uitgespreek dat persone wat graag ‘n krans of ander bydrae of donasie wil maak, dit eerder by wyse van ‘n bydrae tot die Mobiele Ete fonds sal doen. Die bankbesonderhede is: Mobiele Etes, ABSA Louis Trichardt, Taknommer 334149, Rekeningnommer 1000550465.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines