ADVERTISEMENT:

 

Lede van Ladies Circle 4 saam met Henco van der Merwe en audioloog Natasha van Niekerk. Van links is Des Oosthuizen, Melinda Prinsloo, Natasha, Henco, Pam Mcabe en Belinda Mellows.

Ladies Circle 4 help jong Henco om weer te hoor

 

News  Date: 07 December 2007

 

Die 10-jarige Henco van der Merwe van Louis Trichardt glimlag breed nadat hy op Vrydag, 30 November, ‘n baie groot, vroeë kersgeskenk ontvang het van Ladies Circle 4.

Die geskenk was ‘n baie duur gehoorapparaat en uiteindelik is jong Henco se droom om normaal te kan hoor, bewaarheid.

Henco se ouers het reeds in 2004 agtergekom dat hul seuntjie hardhorend is. Kort daarna is hy vir mediese toetse na Polokwane gestuur waartydens medici bepaal het dat hy slegs 35% van sy gehoor het. In daardie stadium het Henco reeds geleer om die persoon wat met hom praat se lippe te lees.

Henco se skoolwerk het geweldig gely as gevolg van sy gehoorprobleem en in 2005 en 2006 het sy ouers besluit om hom tuis te onderrig in ‘n poging om sy skoolwerk, asook sy gehoor, te verbeter. Hy is later weer terug gewone skool toe, maar sy gehoorprobleem het weer vererger. Tydens ‘n opvolgondersoek in Tzaneen by audioloog me. Natasha van Niekerk is daar bevind dat Henco slegs 20% gehoor in albei ore het. Die Van der Merwe-gesin is verder ingelig dat ‘n operasie nie Henco se probleem sou oplos nie. Net ‘n gehoorapparaat sou help. Dit was egter makliker gesê as gedaan, aangesien die apparaat ‘n aansienlike bedrag sou kos.

Ladies Circle 4 het te hore gekom van Henco se nood en dadelik begin fondse in vir die aankoop van die gehoorstuk. Op 30 November het die groot dag aangebreek en die gehoorstuk is deur me. Tracy-Ann Betts van Oticon van Johannesburg geïnstalleer. Die apparate, wat nie veel groter as twee pekanneute is nie, se koste het R43 000 beloop. Oticon, by wie die toestelle gekoop is, het egter die prys na net oor die R29 000 verminder en het ‘n FM-stelsel asook ‘n Otikids-pakkie ingesluit.

Henco en sy familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal wat ‘n bydrae gelewer het en gehelp help om ‘n jong seun se normale lewe terug te gee.

"Ladies Circle 4 doen regtig baie vir die Louis Trichardt-gemeenskap en ons kan net dankbaar wees om so ´n dinamiese organisasie in ons midde te hê," het pa Hennie gesê.

Melinda Prinsloo van Ladies Circle 4 het ook die organisasies en besighede bedank wat hulle bygestaan en ondersteun het in die projek, insluitend die Rotariërs, P&L Hardeware, Tafelronde Zoutpansberg 66, Jesse Patel en Wendy Evans.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines