ADVERTISEMENT:

 

Roof-CD’s” in jou motor kan jou baie duur kos

 

News  Date: 07 December 2007

 

Wat gebeur as jy met vakansie vertrek en in die motor na musiek luister wat jy gekopieer het? Daar is skynbaar ‘n kans dat jy afgetrek en beboet kan word.

‘n Paar inwoners van Louis Trichardt het ‘n voorsmakie daarvan gekry.

"Ek is net buite Polokwane afgetrek en die verkeersbeampte het vir my gevra of ek enige gekopieerde kompakskywe (CD’s) in my motor het," vertel makelaar Abrie Senekal, wat op 28 November afgetrek is. Abrie het egter reeds gehoor van die e-pos wat rondgegaan het en mense gewaarsku het dat ‘n boete van R3 000 per gekopieerde kompakskyf gehef sal word. Sy het haar motor skoongemaak van gekopieerde materiaal.

"Ek het vir die beampte gevra wat hy sou gedoen het as daar so ‘n CD in my motor was. Hy het gesê dat ek ‘n boete van R3 000 sou kry. Toe ek hom vra wat sal gebeur as ek die oorspronklike CD by my huis het, het hy gesê dat hy my sal vergesel huis toe en my sal arresteer as ek dit nie kan toon nie."

‘n E-pos wat rondgaan onder die naam Kristina January van die MetroPolisie waarsku die publiek dat die polisie voertuie sal deursoek vir gekopieerde kompakskywe. Indien enige gevind word, sal die persoon gearresteer word en na die polisiestasie geneem word en die kompakskywe ondersoek word vir roofkopieë.

"Die minimum boete is R3 000 en jy moet dit dadelik betaal of jy sal aangehou word totdat jy betaal. As jy dus enige roofkopieë het, raak ontslae daarvan. As jy leë kopieerbare kompakskywe het of skywe wat ander inligting op het buiten musiek en films, hou dit uit jou motor."

Die e-pos is ook gelees deur mnr. Louis van der Walt van Eskom. Hy is op 21 November op pad na ‘n vergadering in Polokwane afgetrek en sy hele persoon en motor is intensief deursoek deur die polisie. Hy het aanvaar dat dit was om kompakskywe te soek, maar nie een van die beamptes het ‘n woord gesê nie.

"Van nou af sal daar net radio geluister word in my motor," sê Van der Walt.

Beheeraanklaer mnr. Ryno Mostert sê dat hy nie bewus is van so ‘n veldtog en dat dit arresteerbaar is nie. Mostert sê dat dit teen die outeursregwet is om te kopieer, maar dat daar gewoonlik opgetree word teen mense wat ‘n kommersiële bedryf van roofkopieë maak en dat ‘n lasbrief vir ondersoeke uitgereik moet word.

Een leser het op 12 November aan my.news24 geskryf dat hy nou sewe van hierdie e-posse gekry het en dat mense moet ophou om "sulke nonsens rond te stuur." Die opskrif was Leer om ‘n wolhaarstorie te herken (Learn to spot a hoax). Hy het gesê dat dit nie onwettig is om ‘n kopie te hê van iets waarvan hy die wettige eienaar is nie. Hy het gesê dat hy MP3’s aanlyn koop en dit op ‘n CD skryf en dat hy ‘n lisensie daarvoor het.

Plaaslike prokureur mnr. André Naudé sê dat dit onwettig is om ‘n kompakskyf te kopieer sonder die toestemming van die vervaardiger, al het jy dit aangekoop. Niemand mag egter op die plek boetes van jou verhaal nie. Wanneer die polisie redelikerwys vermoed dat jy vervalste goedere het, mag hulle ‘n ondersoek doen.

Advokaat Gideon Joubert van die Universiteit van Venda sê dat daar wetgewing in plek moet wees om ‘n aangeleentheid wat normaalweg in die privaatreg hanteer word, strafregtelik te maak. Outeursreg word beheer deur die Wet op Outeursreg No. 98 van 1978, soos gewysig 1992.

Volgens die webwerf van Innovus, ‘n afdeling van die Universiteit van Stellenbosch, word outeursreg gedefinieer as die reg wat die outeursreghouer van ‘n oorspronklike werk het om ander te verbied om ongemagtigde kopieë van sodanige werk te maak.

"Outeursreg word nie geskend nie deur enige billike gebruik van ‘n letterkundige of musiekwerk vir die doeleindes van navorsing of persoonlike of private gebruik."

RISA (Recording Industry of South Africa) waarsku op hulle webwerf dat die Vervalste Goederewet nou ingespan word om roofkopiëring te beveg.

"Lede van die SAPD, Departement van Handel en Industrie en doeanebeamptes is almal gemagtig om beslag te lê op vervalste kopieë. Vervalsings sluit in CD’s, kassette, MP3’s en CD-R kopieë."

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines