

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 December 2007
‘n Jong inwoner van die Louis Trichardt, Juan Pelser, meen hy is onregverdig deur ‘n munisipale verkeersbeampte behandel, toe hy gegaan het om sy bestuurderslisensie te bekom. Hy sê die beampte het hom sonder enige wettige rede laat druip.
Juan het op Saterdag, 17 November, by die munisipale toetsterrein opgedaag vir die aflê van sy finale toets om sy bestuurderslisensie te bekom. Daar aangekom moes hy eers ‘n klomp vorms invul waarna die verkeersbeampte, volgens Juan, hom opdrag gegee het om die voertuig, waarmee hy getoets sou word, by die toetsterrein in te bring. Jaun sê hy is ook opdrag gegee dat die persoon wat hom vergesel het, eers uit die voertuig moes klim.
Sekondes nadat Juan die voertuig by die toetsterrein inbestuur het, het die verkeersbeampte na hom toe gestap, breed geglimlag en hom meegedeel dat hy nie verder getoets gaan word nie en dat hy gedruip het. Toe Juan uitvra waarom die beampte hom druip, is hy meegedeel dat hy die voertuig sonder ‘n persoon met ‘n wettige bestuurderslisensie bestuur het.
Juan sê hy was totaal uit die veld geslaan.
"Ek kon dit nie glo nie, want ek het bloot die verkeersbeampte se opdragte uitgevoer."
Juan sê dat hy dadelik dit onder die toetsbeampte se aandag gebring dat ‘n opdrag van ‘n verkeers- of polisiebeampte, soos dit in sy studiemateriaal staan, dadelik uitgevoer moet word, ongeag regulasies. Sy ma het ook probeer om met die beampte te praat, maar dié het net vir hulle bly glimlag. Juan sê dat toe hulle die beampte dreig dat hulle koerant toe sal gaan met die storie, het die beampte net breër gelag en gesê hulle kan maar doen wat hulle wil.
Na die voorval het Juan by van sy vriende verneem dat dieselfde ook met van hulle gebeur het. Hy het egter weer aansoek gaan doen, weer betaal en dié keer, sê hy, het die beampte seker ‘n beter dag gehad want hy het deurgekom.
Die Zoutpansberger het hierdie week die munisipaliteit se skakelbeampte, mnr. Louis Bobodi, genader vir kommentaar. Bobodi het kennis geneem van die voorval en gesê dat sou dit wees wat gebeur het, die beampte se optrede onaanvaarbaar is. Hy het die publiek aangemoedig om enige beampte by die betrokke munisipale departement te rapporteer, indien hulle voel hulle is onregverdig of beledigend deur die beampte hanteer.

ADVERTISEMENT:
