ADVERTISEMENT:

 

Hemel se sluise maak oop

 

News  Date: 21 December 2007

 

Die jaar nader sy einde met verdere gunstige aanduidings van nog wydverspreide reënneerslae en vooruitsigte op ‘n buitengewone nat somer. Op sommige plekke word nog gretig uitgesien na ‘n verdere aanvulling van die ondergrondse watertafel en na beduidende aanvullings van die watervoorraad in die vernaamste damme.

In ‘n sopnat Louis Trichardt duur die reënweer steeds voort. Die afgelope naweek is verdere neerslae gemeet wat wissel van 48mm tot 80mm op die dorp en omstreke.

Musina het die afgelope naweek ‘n welkome 105mm op die dorp ontvang en op plekke in die omgewing het dit ook goed gereën. Volgens waarnemers is die reënval sedert Julie vanjaar reeds oor die gemiddeld van die afgelope 31 jaar en is alle aanduidings daar dat die nuwe jaar buitengewoon nat gaan wees.

Net sommige van die belangrikste damme in die streek het tot dusver gebaat by die jongste reënneerslae, terwyl die watervlak in verskeie van die damme sedert verlede week onveranderd gebly het. Selfs in die gevalle waar daar wél ‘n verbetering was, is die stand nog heelwat laer as wat dit gedurende die ooreenstemmende tyd verlede jaar was.

Die stand van water in die Albasinidam bly onveranderd op 38.2%. Die Glen Alpinedam het heelwat water bygekry en staan nou op 35.2% teenoor verlede week se 17.7%. Verlede jaar dié tyd was dit 39.3%.

Die Luphephedam het ‘n bietjie water bygekry en staan nou op 36.9% teenoor 34.7% verlede week. Verlede jaar dié tyd was dit 79.8%

Die Middel-Letabadam het nog geen water bygekry nie en staan steeds op 14.2%. Die dam se stand in die ooreenstemmende tyd verlede jaar was 30.6%. Die stand in die Nsamidam is ook nog onveranderd op 53.1%. Verlede jaar was dit 68%.

Die Nwanedzidam het vanaf 67.5% verlede week tot 72.5% verbeter en nader nou die 77% van verlede jaar.

Die stand van die Nzheleledam is vandeesweek 52.1%. Verlede week was dit 49.7%. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was dit 82.2%.

Die Tzaneendam se watervlak het van 38.6% tot 39.6 % gestyg. Verlede jaar was die dam 55.2% vol.

In die Vondodam is die stand onveranderd op 74.6% . Dit was verlede jaar 86.8%.

‘n Plaaslike kenner, mnr. André Kruger, het by navraag gesê die beskikbare syfers tot dusver dui daarop dat die streek aan die begin staan van ‘n buitengewoon gunstige siklus waarin ‘n bo- normale reënseisoen te wagte kan wees. Die ondergrondse watervlak het reeds aansienlik gestyg en beduidende aanvullings van die water in die streek se vernaamste damme kan eersdaags verwag word, sê mnr. Kruger.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines