ADVERTISEMENT:

 

TLU vra vir volledige ondersoek

 

News  Date: 21 December 2007

 

‘n Volledige ondersoek na gerugte van bedrog in die Soekmekaar-grondeise en bewerings van die onregmatige gebruik van sogenaamde "konsultante" en "agente" in alle grondeise in Limpopo behoort nou ingestel te word, sê die voorsitter van die TLU Noord, mnr. Dries Joubert.

Hy het gereageer op berigte dat vier senior beamptes, waaronder die provinsiale grondeise kommissaris self, in hegtenis geneem is op aanklagte van bedrog.

Volgens die berigte het die Skerpioene toegeslaan op die kantoor van die provinsiale grondeise kommissaris in verband met klagtes van bedrog waarby meer as R2 miljoen betrokke sou wees.

Mnr. Joubert het kommer uitgespreek oor die feit dat die betrokkenes nie voorlopig geskors is totdat die ondersoek teen hulle afgehandel is nie. Hy sê hoewel almal onskuldig is totdat hulle skuldig bewys kan word, kan dit die ondersoek nadelig tref as die betrokkenes in ‘n posisie gelaat word waar dit vir hulle moontlik is om van belangrike bewysstukke ontslae te kan raak.

Joubert het gevra vir ‘n onmiddellike ondersoek na alle afgehandelde grondeise in Limpopo.

Hy sê die regsoptrede teen die grondeise kommissaris en sy personeel is skokkende nuus, hoewel dit glad nie meer ongewoon is om van sulke klagtes teen hooggeplaaste regeringsamptenare te hoor nie. Die betrokke geval bring egter ‘n bitter smaak en ernstige vrae oor integriteit na vore, in situasies waar daar geoordeel moet word oor die botsende belange van beswaarde partye.

Hy het die vertroue uitgespreek dat die hele aangeleentheid baie deeglik ondersoek sal word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines