ADVERTISEMENT:

 

Wyle Carlien de Waal (18).

Tragedie op die N1 eis vyf lewens

 

News  Date: 11 January 2008

 

Twee van die groep van vyf jongmense wat gedurende die vroeë oggendure van Sondag, 23 Desember, in ‘n gru-ongeluk op die N1 net buite Louis Trichardt betrokke was, was teen druktyd steeds in die intensiewe eenheid van die Unitas Hospitaal in Pretoria.

Vyf mense het tydens die ongeluk gesterf, waaronder die 18-jarige Carlien de Waal wat verlede jaar matriek geskryf het by Hoërskool Louis Trichardt. Sy was een van vyf vriende in die motor van die 21-jarige Stiaan Oosthuysen. Die ongeluk het plaasgevind toe ‘n voertuig wat onderweg was op die N1 noord, skielik voor hulle ingejaag het nadat dié klaarblyklik vir ‘n taxi moes uitswaai.

Die geweld van die impak het Stiaan se voertuig die lug ingeskiet. Saam met hom in die kar was Carlien en twee skoolvriendinne wat ook verlede jaar saam met haar matriek geskryf het, Karen Viljoen en Corné Steyn, asook die jong Ian Badenhorst. Stiaan se voertuig het toe bo-op ‘n derde voertuig beland wat agter hulle gery het. Drie van die vyf insittendes in die voertuig wat met Stiaan gebots het, is opslag dood. ‘n Vierde het later in die hospitaal dood. Die drie insittendes van die voertuig waarop Stiaan se kar te lande gekom het, is lig beseer.

Ian is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger en het ligte beserings opgedoen. Sy vriende is almal per ambulans hospitaal toe gejaag. Carlien het egter sowat drie ure na die ongeluk vanweë ernstige inwendige beserings beswyk. Hartseer was die feit dat sy die enigste een in die voertuig was wat ‘n veiligheidsgordel gedra het.

Karen, met ‘n heup- en sleutelbeenbreuk, is oorgeplaas na die MediKliniek in Polokwane. Stiaan, wat na die ongeluk in ‘n koma gegaan het, is saam met Corné met ernstige hoofbeserings in die Unitas Hospitaal opgeneem.

Volgens ‘n vriend van die familie het Stiaan Saterdag, 7 Januarie, vir die eerste keer na die ongeluk sy bewussyn herwin. Hy het sy ouers herken, maar kon nie praat nie aangesien hy steeds aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel is omdat hy nog nie self kan asem haal nie. Corné kommunikeer met behulp van briefies met haar familie en sy toon goeie vordering. Intussen is Karen geopereer om die skade aan haar heup te probeer herstel, maar sou volgens haar ma Woensdag weer ‘n verdere operasie moes ondergaan.

Die ongeluk het vir baie as ‘n skok gekom te midde van die feestelike Kersseisoen, veral met die nuus van Carlien se dood. ‘n Roudiens is vir haar gehou op Vrydag, 28 Desember, dieselfde dag waarop sy haar matriekuitslae kon gaan haal. Sy het geslaag.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines