ADVERTISEMENT:

 

Marike Krügell is Hoërskool Louis Trichardt se top matriekleerder vir 2007. Marike is die provinsie se toppresteerder in Afrikaans en eindig ook onder die top 30 leerders.

Triegies se matrieks weer onder provinsie se bestes

 

News  Date: 11 January 2008

 

Marike Krügell is Hoërskool Louis Trichardt se top matriekleerder vir 2007. Marike het nie alleen die Afrikaans Eerste Taal beker voor almal in die provinsie weggeraap nie, maar het ook ‘n trofee ontvang as een van die top 30 leerders in die provinsie.

Marike, wat hierdie jaar BCom Risikobestuur by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom Kampus gaan studeer, het vyf onderskeidings agter haar naam. Haar A-vakke is Afrikaans, Engels, ekonomie, rekeningkunde en rekenaarstudie, almal op die hoërgraad. Haar Afrikaanse wenpunt was 366 uit ‘n moontlike 400. Met haar groottotaal van 2 025 vir ses vakke, het Marike sesde in die Vhembe distrik en 24ste in die provinsie geëindig. Die topleerder in die provinsie is Tanya White van Hoërskool Frikkie Meyer met 2207.

Nog ‘n Triegie wat oor die verhoog gestap het om ‘n vaktrofee te ontvang, is Jurgen Hendriks, wat met 362 die hoogste punt vir tegnika siviel in die provinsie behaal het. Die amptelike aankondiging van die Graad 12- eksamenuitslae is op 28 Desember by Bolivia Lodge in Polokwane tydens ‘n luisterryke funksie gedoen. Jurgen sê dat sy tegnika siviel onderwyser, mnr. Theo Muller, altyd sy beste gedoen het om die vak vir hulle lekker te maak. Jurgen se hart staan boerdery toe en hy gaan BSc Landbou aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

"My ouers ondersteun my altyd, maar laat dit aan my oor om te besluit hoe goed ek wil doen," sê Jurgen.

Marike het ook spesiale melding gemaak van haar ouers, Jan en Elsa Krügell, se ondersteuning. Beide haar ouers is bekende onderwysmense. Marike se raad is: "Onthou die Here in jou lewe en … as jy een uur wegstap van die skool, moet jy seker weet jy het alles verstaan. By die huis oefen jy om dit onder die knie te kry." Hierdie flukse student, wat ook goed in krieket en ander sport presteer het, weet nog nie of sy ná haar studies die akademie, die bankwese of die oorsese privaatsektor sal kies nie. Sy het gelukkig ‘n broer in elk van die drie, by wie sy kers kan opsteek.

Twee leerders het elk vier onderskeidings. Maresia Booyens, wat BSc Fisika by die Universiteit van Pretoria gaan studeer, behaal onderskeidings op hoërgraad in Afrikaans, Engels, rekeningkunde en rekenaarstudie (SG).

"Vertrou op die Here en staan vroeg op in die oggende," is Maresia se leuse. Danie van Ryneveld se onderskeidingsvakke is Afrikaans, Engels, tegnika siviel en tegniese tekene. Danie gaan by Anglo Platinum in Rustenburg ‘n praktiese jaar aflê, waarna hy aan die Universiteit van Johannesburg gaan studeer. Danie glo daaraan om alles voluit te doen.

Sewe Triegies spog met drie onderskeidings elk. Al die vakke is op die hoërgraad, tensy anders aangedui. Hulle is Arthur Venter (Afrikaans, Engels, rekenaarstudie SG), Stefan van Jaarsveld (Afrikaans, Engels, bedryfsekonomie), Anke Luus (Afrikaans, Engels, tegnika siviel), Hardus Lee (Afrikaans, Engels, aardrykskunde), Helgard Cronjé (Afrikaans, Engels, rekenaarstudie SG), Funani Sadiki (Afrikaans, biologie, aardrykskunde) en Busi Mudau (Afrikaans, ekonomie, bedryfsekonomie).

Elf leerders het twee onderskeidings elk. Hulle is Imi Rambani, Tshifiwa Madala, Jean le Roux, Jurgen Hendriks, Bonita Furstenburg, Janecke Erasmus, Nellis Botma, Denis Beukes, Helet-Mari Young, Mariska Wiggill en Jaide Schempers. Sewentien leerders het een onderskeiding elk behaal.

Van die 117 leerders van die skool wat die Graad 12-eksamen geskryf het, het 115 geslaag en een leerder het nog ‘n vraestel uitstaande. Universiteitsvrystelling is deur 42 leerders verwerf. Louis Trichardt Hoërskool is weereens onder die top 40 skole van die provinsie.

"Ek is tevrede met wat ons reggekry het en die groep het goed gedoen vir hulself. Ten spyte van die staking en ontwrigtings, het die onderwysers deurgedruk en ons het steeds goeie uitslae gekry," het die skoolhoof, mnr. Henri Denner, op 3 Januarie gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines