ADVERTISEMENT:

 

DBV ontstoke oor klappers, maar niemand kla blykbaar

 

News  Date: 11 January 2008

 

"Die gru-gevolge van die voortgesette onverantwoordelike en onwettige misbruik van vuurwerke, behoort alle redelike en ordentlike mense met afsku te vervul. Beskaafde mense in ‘n ordelike gemeenskap, behoort hul heelhartige steun toe te sê aan ‘n algehele verbod op die ongeorganiseerde hantering van vuurwerke".

Dit is die konsensus van ‘n openbare debat waarin veral verteenwoordigers van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Suid-Afrika by herhaling ‘n ernstige oproep op die owerhede gedoen het om daadwerklik en beslissend op te tree teen ‘n misbruik wat, volgens woordvoerders landwyd, veral in plattelandse gebiede, besig is om heeltemal handuit te ruk.

‘n Woordvoerder van die plaaslike DBV op Louis Trichardt, me. Bea Reimer, sê die vereniging het te make gehad met ‘n groot getal diere wat waansig verskrik deur die onverantwoordelike geraas op die vlug geslaan het. Die verskrikte diere is by die DBV versorg. Talle van hulle is reeds weer aan hul eienaars terugbesorg, maar daar is nog steeds van die diere wat wag op hul eienaars. Sy het ‘n beroep gedoen op inwoners wat nog steeds vreemde, verskrikte diere versorg, wat by hulle aangekom het, om met die DBV in verbinding te tree, sodat die diere weer by hul regmatige eienaars kan terugkom.

Luidens mediaverklarings deur die DBV is talle diere gruwelik vermink en dood, nadat hulle paniekbevange deur heinings of glas probeer wegvlug het. In een geval is ‘n groot hond, die geliefde troeteldier van ‘n kind, grusaam aan flarde geskeur toe dit paniekbevange oor ‘n palisadeheining probeer spring het. In ander gevalle is die diere ernstig beseer en vermink toe hulle deur glasdeure of glasruite probeer wegkom het vir die onuitstaanbare geraas van vuurwerke wat onnadenkend, onverskillig en onregmatiglik deur onverantwoordelike individue afgevuur is. Dit is ‘n strafbare misdryf om vuurwerke sonder skriftelike goedkeuring af te vuur.

Volgens mense wat die vakansie op Louis Trichardt tuis deurgebring het, is wetsgehoorsame inwoners en troetel- en geselskapsdiere in die afgelope feesseisoen geteister deur ‘n onbeteuelde uitbarsting van buitengewoon kragtige ploftoestelle wat straffeloos vanaf private woonpersele, op straat, in die sakebuurt en selfs in die middel van die dorp binne sig van die polisiestasie openlik in die strate afgevuur is. Dié onbeheersde misbruik het deur die dag en soms regdeur die nag sporadies voortgewoed.

Voor die feesseisoen het die DBV ‘n skriftelike oproep op die publiek gedoen om hulle te weerhou van die skiet van klappers en die afvuur van ander vuurwerke binne woongebiede. In die oproep het die DBV gesê: "Diere se welsyn is van ons mense se goedgesindheid en deernis afhanklik. Kom laat ons tydens die feesseisoen ook nie vergeet nie dat diere ‘n deel is van ons samelewing en dat ons, as verantwoordelike mense, dit ons plig moet ag om hulle op die beste moontlike wyse, bedagsaam te versorg."

In ‘n spesiale handleiding oor vuurwerke, wat voor die feesseisoen gepubliseer is, sê die DBV katte en honde het ‘n baie fyner gehoor as mense en is selfs sensitief vir klank en geluide wat heeltemal onhoorbaar is vir die mens se oor. Honde se gehoor is na raming vyf keer meer sensitief as mense s’n. Katte se gehoor is nog twee keer fyner as dié van honde.

Volgens die Wet op Plofstowwe is dit ‘n strafbare misdryf om enige vuurwerke af te vuur binne ‘n munisipale gebied, sonder die skriftelike toestemming van die betrokke plaaslike owerheid. Vuurwerke mag ook nie sonder ‘n lisensie verkoop word nie en streng voorskrifte geld vir die perseel en die wyse waarop vuurwerke geberg en verkoop mag word. Die wet moet deur die SAPS toegepas word.

Die woordvoerder vir die plaaslike SAPD in Louis Trichardt, kapt. Maano Sadiki, het vandeesweek by navraag gesê geen klagtes is ontvang oor die onwettige afvuur van vuurwerke nie. Niemand is gevolglik vir enige oortreding van die betrokke wetgewing aangespreek of aangekla nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines