

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2008
Terwyl Stiaan Oosthuysen se stryd om herstel in die intensiewe eenheid steeds voortgaan, het sy pa inmekaargesak, nadat hy vir drie weke by sy seun se bed in Pretoria gewaak het.
Stiaan se ma, me. Linda Oosthuysen, het Maandag (14de) gesê dat Stiaan al baie vordering toon, maar dat haar man, Jack, se hart probleme gegee het.
"Dis van die spanning. Hy lê nou ook in die intensiewe sorgeenheid van die Unitas Hospitaal, dieselfde hospitaal as Stiaan," het Linda gesê.
Die gemeenskap was geskok deur die noodlottige en ernstige beserings wat die insittendes opgedoen het tydens ‘n gru-ongeluk wat op 23 Desember omstreeks een uur die oggend op die N1 naby Louis Trichardt plaasgevind het. Stiaan (21) was die bestuurder van een van die voertuie wat betrokke was. Dié fratsongeluk het altesaam vyf lewens geëis. Een van die noodlottig beseerdes was Carlien de Waal, wat verlede jaar matriek aan die Hoërskool Louis Trichardt geslaag het. Drie van die vyf insittendes van die motor waarteen Stiaan se motor gebots het, is op slag dood en ‘n vierde insittende het later beswyk.
Stiaan is reeds voor sewe uur die oggend van die ongeluk per ambulans na Polokwane vervoer, waarna hy per helikopter na die hospitaal in Pretoria geneem is. Volgens sy familie het hy egter eers ongeveer 14:00 daar arriveer, tot ontsteltenis van die neurochirurg. Klaarblyklik was hy gedehidreer en sonder suurstof.
Jack het Vrydag gesê dat verskeie pastore van Louis Trichardt en ander al vir Stiaan gebid het. Sy selfoon lui onophoudelik soos wat die gemeenskap hulle bemoedig.
"Na een so ‘n oproep en gebed oor die selfoon, het ek skielik vrede gekry en geweet Koning Jesus is in beheer," het Jack gesê.
Pa Jack praat heeltyd met Stiaan en hou hom rustig en positief. Verlede Dinsdag is die verdowing ligter gemaak om Stiaan by te bring, maar hy het die pype begin uitruk.
"Dit was wild. Vier susters moes hom beheer," het Jack gesê. Teen Vrydag kon Stiaan al reageer op opdragte en is sy arms en bene losgemaak. Daar was geweldig baie slym op sy longe. Hy het probeer boodskappe skryf, maar kon nog net krabbel.
Saterdag kon hy wonderbaarlik al in ‘n stoel sit en verstaanbare boodskappe skryf. Hy kan nie praat nie omdat sy kakebeen geopereer is en sy tande vas aanmekaar gewerk is. Stiaan het die susters verbaas deur sy ouma Myda se selnommer korrek neer te skryf. Die asemhalingspyp in sy keel is ook uitgehaal. Dit was ‘n gelukkige familiebyeenkoms by die hospitaal Sondagoggend.
Die suster het egter vir Linda eenkant geroep en gesê dat Jack nie vir haar goed lyk nie. Linda is terug na Louis Trichardt vir haar werk by Eerste Nasionale Bank. Sondagaand het sy berig gekry dat Jack (47) by die hospitaaltrappe inmekaargesak het weens hartprobleme. Hy het al tevore ‘n hartoperasie ondergaan. Linda het Maandag met Jack gepraat en hy sou in die week ‘n angiogram ondergaan.
Die ander drie jongmense wat saam met Stiaan en Carlien in die motor was, is Corné Steyn, Karen Viljoen en Ian Badenhorst. Corné is Vrydagoggend (11de) uit die Unitas Hospitaal ontslaan, nadat sy uit die intensiewe eenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas is. Haar gesig se beserings is onder operasie herstel, asook die breuk aan haar linkerarm. Karen het breuke in haar heup en sleutelbeen opgedoen. Ian is slegs lig beseer.
Wat die ongeluk betref, was dit vir pa Jack ‘n groot troos dat daar geen drank by betrokke was nie. Stiaan is by Coca-Cola werksaam. Ma Linda, wat nou twee gesinslede in die intensiewe sorg het, wil graag die gemeenskap bedank vir hulle wonderlike ondersteuning. Intussen styg die kostes daagliks.
"Mense het al gevra of ons ‘n fonds sal stig, want hulle wil graag bydra. Ons kerk het ook gevra. Ek sal dit seker hierdie week reël," het Linda Maandag gesê. Geleenthede vanaf Louis Trichardt na Pretoria en terug word ook verwelkom vir familielede wat gereeld by Stiaan wil gaan kuier.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
