ADVERTISEMENT:

 

Ras-familie in skok ná voorval op N1

 

News  Date: 18 January 2008

 

Wat verlede Maandag vir baie as ‘n gewone werksdag begin het, het vir mev. Ina Ras, plaaslike werknemer van ABSA Louis Trichardt, en haar twee kleuters, Clarisse (4) en Chané (2) in‘n oggend van vrees en skok ontaard.

Sy was nog merkbaar ontsteld ‘n week ná die voorval op 7 Januarie. Dit het omstreeks 07:20 op die N1 net binne die dorp plaasgevind.

Volgens mev. Ras was sy vanaf die Lugmagbasis op pad dorp toe vir haar werk, toe ‘n onbekende taxi met donker gekleurde vensters haar agterna gesit het.

Die wit taxi, met die kenmerkende swart ruite, het haar vanaf die SACM afdraai begin volg en het die hele tyd so naby aan haar gery dat sy nie eers die voertuig se nommerplaat kon sien nie.

Met die taxi wat so naby aan haar gery het, het mev. Ras gepoog om effens te versnel, maar voor haar was ‘n ander voertuig, wat die spoedgrens bly handhaaf het en gevolglik het die wit taxi reg agter mev. Ras gebly.

Volgens mev. Ras het die taxi baie vreemd opgetree.

"Dan is hy links agter my en dan weer regs, so asof hy doelbewus sy registrasienommer wou versteek."

‘n Ander voertuig voor in die pad het skielik by Makhado Park afgedraai en mev. Ras moes vinnig rem trap. Kort daarna het die wit taxi haar op die geel streep verby gesteek en voor haar in die pad doodstil gestop en haar gekeer om aan te ry. Dit alles het gebeur net voordat die pad in verskillende bane verdeel.

Op die spesifieke dag was daar ook nie soos gewoonlik enige sigbare verkeersbeamptes nie. Dit het nog meer spanning tot mev. Ras se situasie bygedra.

"Ek het teenaan die taxi tot stilstand gekom en die bestuurder het na my venster toe begin stap. Sonder om te dink het ek my venster afgedraai om te hoor wat die man wil hê.

Met ‘n gevloek het hy op haar begin skreeu en gesê "Wat dink jy doen jy, jou f***** t***" . Mev Ras het dadelik reageer en vir die man gevra wat hy bedoel, aangesien hy die een was wat haar op die geel streep verbygegaan het.

Die man het bly skreeu en mev. Ras het haar venster toegedraai, waarna sy niks kon hoor wat hy verder te sê het nie. Haar oudste, Clarisse, het gevra: "Wat wil die oom hê mamma?". Al wat mev. Ras vir haar dogter kon sê is dat die oom nie wil hê hulle moet ry nie.

"Wat sê mens anders in so situasie vir jou kind?".

Mev. Ras het die voertuig in tru-rat gesit, en toe die taxi bestuurder sien wat sy beoog, het hy probeer om die voertuig se deur oop te ruk. Gelukkig was die voertuig van dié soort wat automaties sluit, aangesien mev. Ras nooit haar deure self sluit wanneer sy ry nie.

Die man het gebuk om ‘n klip op te tel, toe mev. Ras ‘n gaping gesien het om vinnig verby te skiet en haar, sowel as haar twee kinders uit ‘n baie benoude situasie te red.

Mev. Ras is toe dadelik na haar skoonma se woning toe waarna die polisie geskakel is. Die vrou wat voor haar gery het ten tyde van die voorval, het ook daar gestop.

Sy was ook voorheen ‘n slagoffer van die betrokke taxi en het dadelik vir mev. Ras gesê dat sy nie alleen moet voel nie en dat sy ‘n poging sal aanwend om die registrasienommer in die hande te kry.

"Ek besef nou dit was verkeerd om die venster so vir ‘n vreemde persoon oop te maak," sê mev. Ras.

Die Ras-gesin is dankbaar dat hulle die voorval ongedeerd deurgemaak het, alhoewel hulle steeds nie beslis weet wat die man se voornemens was nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines