ADVERTISEMENT:

 

‘n Hoop onverwyderde vullis en rommel loop van die sypaadjie af reeds oor in die straat reg voor die hoofingang van die spoorwegstasie op Louis Trichardt. Die onooglike en onwelriekende hoop afval versamel reeds sedert verlede jaar op ‘n plek waar voorheen ‘n groot nywerheidsvullishouer deur die munisipaliteit verskaf was. Die houer het intussen verdwyn. ‘n Verdere onbehaaglike en onsanitêre situasie word reg voor die ingang van die spoorwegperseel geskep deur onbeheerde bus- en taxi-verkeer, smousery en twee gelisensieerde drinkplekke – reg oorkant mekaar. Let op die waarskuwingsteken teen ernstige misdaad links in die foto.

Onmin tussen Raad en Spoornet oor lokomotief

 

News  Date: 18 January 2008

 

Die onooglike en onbehaaglike situasie reg voor die hoofingang tot die spoorwegstasie op Louis Trichardt, het die afgelope weke ‘n nuwe laagtepunt bereik, met ernstige negatiewe potensiaal vir die dorp se beeld en die inwoners en besoekers se welsyn.

Die situasie, wat nou ernstig kommer wek, skep reeds spanning tussen die plaaslike munisipaliteit en die bestuur van Spoornet. Onbeantwoorde vrae hang ook steeds in die lug oor die wyse waarop die dranklisensiewetgewing in die omgewing uitgevoer is en toegepas word.

‘n Gedeelte van die probleem is die ernstige verwaarlosing van die perseel waarop ‘n stoomlokomotief as besienswaardigheid reg voor die Louis Trichardt stasiegebou uitgestal word. Dié monumentperseel is nie net erg verwaarloos, oorgroei en bestrooi met rommel nie, die afdak wat die lokomotief beskerm, is onlangs erg beskadig deur ‘n groot boom wat daarop geval het. Die boom het ook die palissadeheining - die enigste skeiding tussen die stasie en die dorp, stukkend geval. Munisipale werkers het die boom in stukke opgesaag en op die perseel laat lê, terwyl geen herstelwerk aan die afdak of die heining gedoen is nie. Die opening in die heining skep ‘n sekerheidsrisiko op die aangrensende Spoornetperseel en stel die waardevolle lokomotief ook bloot aan verdere bevuiling en beskadiging deur rondlopers en vandale.

‘n Woordvoerder vir Spoornet het vandeesweek gesê die lokomotief was ‘n geskenk vir die dorp aan die plaaslike munisipaliteit, wat ook die palissadeheining en die afdak opgerig het op die munisipale perseel wat regstreeks aan die stasieperseel grens. Die opgeknapte lokomotief is ‘n gewilde besienswaardigheid vir oorsese besoekers. Die woordvoerder sê die munisipaliteit ontken nou verantwoordelikheid vir die heining en die afdak se herstel asook vir die sindelike instandhouding van die res van die perseel, waar onkruid en gras skouerhoog gedy.

Bestuur- en administratiewe personeel van Spoornet het vandeesweek begin met ‘n grootskaalse opruimingsveldtog op dié ernstig verwaarloosde monumentperseel by die stasie, asook op die munisipale sypaadjies in die omgewing van die berugte kruising van Kruger- en Vorsterstrate, reg voor die stasie.

‘n Onbehaaglike en lewensgevaarlike situasie is geskep deurdat twee dranklisensies op persele reg oorkant mekaar by dié straatkruising toegestaan is. Die munisipaliteit laat ook grootskaalse smousery daar toe, sonder gereelde opruimings en vullisverwyderingsdienste. Vullis van die twee drinkpersele sowel as van die smouse beland op ‘n hoop op die sypaadjie en loop reeds oor tot in dié gedeelte van die straat reg by die ingang van die stasie. Intussen is die toegangshek tot die stasie die afgelope naweek platgery deur die bestuurder van ‘n bakkie wat uit die rigting van die drinkplekke na die stasie afgejaag het. Busse en taxi’s versper ook gereeld die ingang na die stasie aangesien hulle dit as op- en aflaaizone gebruik. Daar is geen sigbare poging tot verkeerbeheer deur die munisipaliteit nie, sê die Spoornetwoordvoerder.

Treinpassasiers wat met die aandtrein aankom of vertrek, moet verby die opgehoopte rommel en vullis en tussen die twee drinkplekke en dikwels besope klante deurbeweeg om by die stasie te kom.

Die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, het vandeesweek by navraag gesê daar was in die verlede wel ‘n poging om die perseel waarop die lokomotief uitgestal word, aan die munisipaliteit te skenk. Die perseel behoort egter volgens wet nog steeds aan Spoornet en die munisipaliteit kan gevolglik geen verantwoordelikheid aanvaar vir die perseel of enigiets daarop nie.

Bobodi sê die vullisverwyderingsprobleem op die sypaadjie is met die betrokke munisipale afdeling opgeneem en sal onmiddellik aandag kry. Hy sê die verkeersafdeling sal ook onmiddellik aandag gee aan die verkeersprobleme by die stasie se ingang en sal onmiddellik toesien dat busse en taxi’s die betrokke voorskrifte eerbiedig.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines