

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2008
Te midde van ongelukkigheid oor die swak toestand van Louis Trichardt se watervoorsiening- en rioolstelsel, het die goeie reën die afgelope paar weke ongelukkig ook daartoe bygedra dat die dorp se paaie tans ‘n slagveld van slaggate tesame met oorgroeide sypaadjies en parke is.
Tydens ‘n perskonferensie verlede Dinsdag het die Makhado Munisipaliteit aangekondig dat hulle reeds besig is om na die probleme te kyk en ‘n plan van aksie te beraam om die probleme aan te spreek. Intussen het talle inwoners sommer self die bul by die horings gepak en begin om slaggate voor woonhuise en besigheid op eie stoom op te vul. Menige inwoner het sekerlik al ‘n paar kras woorde geuiter nadat bande vervang moes word danksy die slaggate.
Mnr. Freddie Mamuremi, die munisipaliteit se waarnemende Direkteur van Tegniese Dienste, het tydens die konferensie gesê dat daar reeds voor die goeie reën probleme met van die paaie in die dorp was en dat die situasie intussen net verder versleg het. Hy sê hulle is dankbaar vir die reën, maar wanneer dit reën is dit onmoontlik om enige herstelwerk te doen, veral ten opsigte van die slaggate.
Dit was egter nie net die reën wat herstelwerk vertraag het nie. Die munisipaliteit het klaarblyklik oor die Kersseisoen ‘n tekort aan mannekrag ondervind en is tans in die proses om ‘n verdere 20 junior personeellede aan te stel. Die hoop is uitgespreek dat die aanstellings sal help om die agterstand in dienslewering in te haal.
Mnr. Mamuremi sê dat behalwe vir die herstel van slaggate, die munisipaliteit reeds strate geïdentifiseer het wat totaal oorgebou gaan word. Die areas wat eerste aandag sal geniet sluit in die besigheidsgedeelte van Eltivillas, asook strate in die industriële gebied. Laasgenoemde sal volgens mnr. Mamuremi nog binne die huidige finansiële jaar plaasvind. In Eltivillas se geval is konsultante reeds aangewys en die beoogde ontwerpe reeds goedgekeur. Die projek behoort in Junie afgehandel te wees, waarna daar in die volgende finansiële jaar na die res van die dorp se paaie gekyk sal word.
Wat die rehabilitasie van die dorp se industriële gebied betref, is die munisipaliteit besig om die aanstelling van ‘n kontrakteur te finaliseer, waarna daar so gou moontlik met die rehabilitasie van die onderskeie paaie sal word. ‘n Geweldige toename in die getal swaarvoertuie blyk die groot rede te wees vir die vinnige agteruitgang van baie van die dorp se strate.
Mamuremi het weereens Louis Trichardt se probleme wat betref watervoorsiening en sanitasie toegeskryf aan die dorp se vinnige groei wat binne ‘n kort periode die bestaande infrastruktuur ondoeltreffend gemaak het. Tans is die munisipaliteit besig om saam met die Departement van Waterwese en Bosbou te kyk na moontlik oplossings. Die Vhembe Distriksmunisipalitiet, wat eintlik in beheer van bogenoemde twee dienste is, het onderneem om fondse beskikbaar te stel vir opgraderingswerk. Op die langtermyn gaan die bestaande rioolsuiweringswerke opgradeer word. ‘n Bedrag van R3,2 miljoen is hiervoor van die Departement van Waterwese en Bosbou ontvang. Daar sal later ook gekyk word na die oprigting van ‘n twee suiweringswerke.
Ten opsigte van watervoorsiening is kontrakteurs reeds besig met opgraderingswerk by die Albasinidam.

ADVERTISEMENT:
