

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2008
Probleme met foutiewe water- en ligterekeninge is weer besig om ernstig kop uit te steek by die Makhado Munisipaliteit.
Die grootste probleem blyk te wees die uitreik van buitensporige hoë rekeninge, in sommige gevalle selfs drie tot vier keer meer as verbruikers se normale maandelikse totaal.
In een so ‘n geval het ‘n 73-jarige boer van die omgewing (wat vir die doel van hierdie artikel anoniem wil bly) einde verlede jaar ‘n rekening van R12 000 ontvang, waar hy gewoonlik maandeliks tussen R1 500 en R2 000 betaal het.
"Ek het hulle aanvanklik geskakel en hulle het onderneem om binne ‘n week die probleem reg te stel en na my toe terug te kom. Helaas, die week het gekom en gegaan," sê die klaer.
Die klaer, wat al sy lesings self neem en maandeliks per telefoon deurgee aan die Raad, het toe maar in sy motor geklim en ingery dorp toe. By die stadsraad aangekom het hy met die beampte in beheer, wat aanvanklik hom moes terugskakel, gaan praat.
Die beampte het aangevoer dat die rekening so hoog is omdat die boer een maand versuim het om te betaal. Hierna het die Raad sommer ‘n heraansluitingsfooi op die boer se rekening aangebring, sonder dat sy krag ooit afgesny is.
Gelukkig vir die boer hou hy noukeurig boek van alle transaksies en het aan die beampte gewys dat sy bankstaat toon dat die Raad wel vir daardie maand betaling ontvang het. Hierop het die beampte geen antwoord gehad nie.
Nodeloos om te sê, na ‘n wekelange stryd het die boer uiteindelik ‘n finale rekening van R2 000 ontvang.
"Dit was ook nie reg volgens die eenhede wat ek gebruik het nie, maar ek het dit maar betaal uit moedeloosheid. Ek wil nie hê die manne moet sommer weer net my krag laat ‘afsny’ nie," het die boer gesê. Hy was veral ongelukkig oor die "onbeskofte wyse" waarop die amptenary sy klagte hanteer het.
"My slotsom is dat die mense in daardie departement totaal onbevoeg en ongeskik is om hul werk te doen," het die boer opgemerk.
Mnr. Louis Bobodi, woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, het vandeesweek gesê die Raad is bewus van die probleme rondom foutiewe rekeninge wat uitgestuur word. Volgens hom het die finansiële afdeling sedert die begin van Januarie reeds tussen 20 en 30 klagte in dié verband hanteer. Hy sê dat buitensporige hoë rekeninge die grootste oorsaak van die klagte is.
Ter verduidelik het Bobodi genoem dat die Raad onlangs ‘n nuwe rekenaarstelsel geïnstalleer het wat bydra tot die probleem. Tweedens noem hy dat daar sommige meters by huise is wat foutiewe lesings gee.
"Hierdie meters is oud, maar die betrokke departement is reeds in die proses om hierdie meters te vervang," sê hy.
Bobodi skryf verder baie van die foutiewe meterlesings toe aan die feit dat die Raad se meterlesers by baie wonings nie toegang kan kry tot die meter nie.
"In hierdie gevalle werk hulle maar op ‘n gemiddeld. Ek wil tog vra dat inwoners wat nie vrye toegang tot hul perseel toelaat nie, maar met die Raad moet skakel om ‘n reëling te tref."
Bobodi het inwoners met klagte oor foutiewe rekenings uitgenooi om dadelik met hul finansiële afdeling te skakel. Hy sê die onlangse aanstelling van ‘n permanente Direkteur van Finansies by die munisipaliteit sal ook help om probleme uit te sorteer.
"Ons belowe dat ons so spoedig moontlik sal aandag skenk aan inwoners se klagtes."
Wat die bewering betref dat inwoners onbeskof behandel word wanneer hulle skakel met klagtes, het Bobodi gesê hy het met van die personeel in die betrokke afdelings gaan praat.
"Hulle het gesê dat hulle ten alle tye poog om vriendelik en professioneel op te tree. Somtyds gebeur dit egter dat van die persone wat inskakel met ‘n klagte sommer met die intrapslag onbeskof is met die beampte. Dit help niks. Ek wil graag inwoners versoek om kalm te bly indien hulle ons skakel met klagtes," het Bobodi gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
