ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Barend Prinsloo van Louis Trichardt Brake & Clutch by hul nuwe 63kVA kragopwekker. Die aankoop en installasie van die opwekker het hulle sowat R120 000 uit die sak gejaag.

Krag-fiasko kring wyer uit

 

News  Date: 25 January 2008

 

Terwyl Eskom se beurtkrag-fiasko voortduur, kring die negatiewe ekonomiese effek hiervan toenemend uit.

Ook op Louis Trichardt, soos in die res van die land, kom sakelui erg onder finansiële druk weens die verlies aan inkomste as gevolg van die kragonderbrekings. Dit blyk ook dat daar geen korttermyn verligting gaan kom nie en bespiegelings is dat die krisis nog vir ‘n verdere sewe jaar kan voortduur.

In die lig hiervan het talle ondernemings reeds belê in kragopwekkers.

"Ons moes een kry net om besigheid te kan doen. Soms is die krag die hele dag af en ons kan werklik nie bekostig om te staan nie," sê mnr. Barend Prinsloo van Louis Trichardt Brake & Clutch. Hulle het die afgelope week opgegradeer na ‘n 63kVA diesel kragopwekker, ‘n proses wat hulle in die omgewing van R120 000 uit die sak gejaag het. Daar is egter geen ander uitweg vir hulle nie en mens praat nie eens van die loopkoste nie.

"Vanaf 5kVA tot 200kVA wissel die loopkoste van die opwekker tussen R60 en R600 per uur, maar wat kan jy maak," sê Prinsloo. Hulle is egter van die min ondernemings wat hierdie alternatief kon oorweeg, met talle kleiner en nuwe ondernemings wat dit finansieel net nie kan bekostig nie.

Inwoners en sakelui se grootste frustrasie is egter Eskom se totale gebrek aan kommunikasie. Selfs senior Eskom-personeel erken openlik dat die sogenaamde "afskakeling skedules" op hul webtuiste niks beteken nie en dat die onderbrekings feitlik nooit plaasvind soos aangedui in hierdie skedules nie. Dit maak enige vorm van beplanning onmoontlik.

Buiten vir Eskom se "skedules" veroorsaak botsende mediaverklarings deur die elektrisiteitsverskaffer verdere verwarring. Volgens Eskom is die munisipaliteite verantwoordelik vir die afskakeling van die krag. Dié uitlating is egter net gedeeltelik waar.

Volgens mnr. Ernst Joubert van die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling is dit wel so dat groter munisipale rade soos die van Johannesburg, Pretoria en Polokwane gedeeltelik beheer het oor afskakelingstye, maar in die geval van kleiner munisipaliteite soos die Makhado Munisipaliteit het hulle geen beheer nie. Hy voeg by dat ook hulle weinig kennis kry van beplande onderbrekings.

Dat inwoners en sakelui kwaad is, is nie ‘n geheim nie. Die Soutpansberg Sakekamer dreig reeds met regsaksie teen Eskom in die vorm van ‘n klasaksie. In ‘n poging om oplossings te probeer kry vir wat baie beskou as ‘n nasionale ramp, is ‘n formele vergadering belê tussen Eskom en die onderskeie munisipaliteite in die noordelike streek in Polokwane op 18 Januarie. Die doel van die vergadering was om Eskom se huidige en toekomstige bestuur van beurtkrag te bespreek. ‘n Voorstel is ter tafel gelê dat Eskom slegs een skedule het (nie drie soos tans die geval is) met vasgestelde tye wanneer elektrisiteitsvoorsiening afgeskakel sal word. In die geval van die grootste deel van Louis Trichardt en omstreke, is die voorgestelde tyd 14:00 tot 16:30 (‘n afskrif van die skeduletabel is beskikbaar by die kantore van die Zoutpansberger en ook op die koerant se webtuiste www.zoutnet.co.za). Dié voorstel sal volgens ‘n mediaverklaring van die Makhado Munisipaliteit eers op 7 Februarie in werking tree.

"Tot dan sal die status quo gehandhaaf word," lees die verklaring.

Te midde van die elektrisiteitskrisis het ‘n volgende krisis ontstaan met betrekking tot die gebruik van kragopwekkers. In ‘n tweede verklaring noem die Makhado Munisipaliteit dat hulle die gebruik van kragopwekkers ondersteun, maar dat dit betreurenswaardig is dat die verkeerde gebruik van kragopwekkers reeds tot verskeie mense se dood gelei het by sommige munisipaliteite. Dit is benewens skade wat aan toerusting aangerig is vanweë foutiewe installasies.

In terme van bestaande beroepveiligheidswetgewing is dit verpligtend dat slegs ‘n gekwalifiseerde, geregistreerde elektriese kontrakteur kragopwekkers mag installeer en onderhou.

"Kliënte moet aandring op ‘n Sertifikaat van Voldoening wanneer ‘n bystand kragopwekker geïnstalleer word," maan die munisipaliteit. Verder moet slegs SABS/SANA- goedgekeurde kragopwekkers gebruik word in belang van inwoners se veiligheid. In die geval van groter industriële kragopwekkers moet hierdie opwekkers voldoen aan nasionale elektrisiteitswetgewing, sê die munisipaliteit. Hulle het inwoners uitgenooi om met die Raad se tegniese afdeling te skakel vir meer inligting hieroor.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines