

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 January 2008
Die vinnige optrede van ‘n lid van die Soutpansberg Dorpswag het Donderdag, 17 Januarie, daartoe gelei dat brandskade by ‘n woonstel in op Louis Trichardt tot ‘n groot mate beperk kon word.
Nuus dat rook by ‘n woonstelkompleks naby die Sonop kafee in die nuwe uitbreiding uitborrel, is per dorpswagradio ontvang.
Dorpswaglid Rudi Meissenheimer het dadelik op die noodroep reageer, aangesien hy nie ver vanaf die betrokke woonstel bly nie. Met sy aankoms is hy die woonstel binne. Die vuur het hom egter weer uitforseer, waarna hy ‘n buurman se tuinslang gegryp en die vlamme begin beveg het. Rudi kon gelukkig die vlamme tot die slaapkamer beperk.
Intussen het nog dorpswaglede opgedaag, asook die plaaslike brandweer wat ook vlugtig op die noodroep reageer het en met twee brandweerwaens en ‘n noodvoertuig daar aangejaag gekom het. Ten spyte van die vlamme en baie rook in die woonstel, was die inwoners ongedeerd.
Inwoners Adriaan en Rachelle Koekemoer het ‘n dag na die brand hul storie met die Zoutpansberger gedeel. Volgens Rachelle het ‘n waaier in die woonstel aan die brand geslaan. Sy en hul dogter, Alexandra, was in daardie stadium alleen tuis, terwyl Adriaan in Johannesburg was.
Rachelle sê sy het by die kamer ingestap en tot haar skok die vlamme gesien. Sy het toe onmiddellik die telefoon by Alexandra, wat besig was om met Adriaan te praat, gegryp en hom van die vuur ingelig.
Adriaan het toe gesê Rachelle moet ‘n kombers oor die vlamme gooi om dit te smoor, wat sy toe gedoen het. Die vlamme is onder beheer gebring, maar Rachelle se verligting was van korte duur. Die vuur het skielik weer opgevlam.
Intussen het die Koekemoers se bure gehoor daar is ‘n geskarrel en kom ondersoek instel. Kort daarna het Rachelle en haar dogter egter besluit om die woonstel te ontruim, aangesien die rook onuithoubaar geword het. Verskeie noodnommers is geskakel maar dié het klaarblyklik beset gelui. Dit is toe dat die noodroep oor ‘n buurtwagradio deurgekom het.
Volgens Rachelle het die vlamme duisende rande se skade aangerig. Dit sluit in skade aan van hul meubels, asook strukturele skade. Ten spyte van die skade is die familie egter bly dat daar so vinnig opgetree is om die skade te beperk.
"Die een oomblik kry mens niemand in die hande nie en die volgende oomblik is daar orals hulp, so asof dit uit die hemel geval het" sê Rachelle. Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die dorpswag vir hul vinnige hulp en hul bereidwilligheid om hul medemens by te staan.

ADVERTISEMENT:
