

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 January 2008
Die kommer oor onbeheerde eiendomsontwikkeling sonder om om te gee watter effek dit op die riool- en waterprobleem gaan hê, val steeds op dowe ore.
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging sê in hul Desember omsendbrief dat daar in 2008 druk op die Makhado munisipaliteit uitgeoefen sal word om ‘n moratorium teen enige verdere eiendomsontwikkeling uit te vaardig, totdat waarborge gelewer kan word dat die water- en rioolstelsels die addisionele vloei sal kan hanteer.
Die munisipaliteit het Dinsdag gesê dat so ‘n item definitief nie op die agenda van hul raadsvergadering vir einde Januarie verskyn nie, maar dat dit sekerlik binne die volgende drie maande sal opkom.
Intussen het Polokwane reeds stappe geneem en aansoeke vir nuwe ontwikkeling op die ys gesit. DA Raadslid mnr. Marc de Klerk het hierdie week gesê dat die Polokwane munisipaliteit ‘n tegniese komitee het wat dorpsaangeleenthede, soos dorpsontwikkeling en hersonerings, hanteer.
"Ons Land Use Management komitee het gesien dat daar te veel probleme is en dat ons nie net so kon aanhou ontwikkel nie. Ons komitee is tegnies en nie polities nie. Ons het besluit om eers te stop totdat ons ‘n voorlegging van die verskillende departemente het. Ons wou eers ‘n behoorlike inventaris hê van presies waar ons staan ten opsigte van elektrisiteit, water, riool en paaie," het De Klerk gesê. Dit was nie ‘n moratorium in die ware sin van die woord nie, maar vir sowat vyf tot ses weke is nuwe aansoeke nie aanvaar nie, totdat die komitee hulle antwoorde gekry het. Hulle het bevind dat water en elektrisiteit nie probleme gaan skep nie, maar dat daar moeilikheid met die riool gaan wees.
"Ons verwag ook dat die ontwikkeling nou teen ‘n stadiger tempo gaan kom met die afwaartse fase in die ekonomie," het De Klerk gesê.
Volgens plaaslike DA Raadslid mnr. Jacques Smalle het die Makhado Munisipaliteit nie ‘n soortgelyke komitee nie. Daar het gerugte in die dorp ontstaan dat die Makhado Munisipaliteit geen verdere ontwikkelings of onderverdelings gaan goedkeur totdat die dienstekrisis opgelos is nie. Dit skyn egter nog in die pyplyn te wees.
Die SBBV wys reeds ‘n geruime tyd op die ernstige water en rioolprobleme. ‘n Skrywe is verlede jaar aan die munisipale bestuurder gerig "om oor die toestand van die vervalle water suiweringswerke by die Albasinidam en die rioolbesoedeling in en om die dorp asook besoedeling van die boorgate met rou riool te protesteer". Die reaksie van die munisipale bestuurder was dat sy die SBBV bedank het dat hulle die toedrag van sake onder haar aandag gebring het, want sy "het nie daarvan geweet nie".
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
