ADVERTISEMENT:

 

Kla gerus oor daardie lawaaierige bure

 

News  Date: 25 January 2008

 

Met die Kersseisoen nog vars in die geheue sal baie dit onthou as ‘n tyd van pret en plesier, maar in baie gevalle het hierdie pret en plesier ten koste van andere gekom.

Ja, daardie netelige kwessie van rusverstoring het talle inwoners se geduld weer tot op die uiterste getoets en menige het ‘n hele paar wakkerlê aande deurgewerk.

"Ek belowe jou, van sononder tot sonop, moes ons luister na ‘n malle gedoef-doef van oorverdowende musiek en lawaai. Ek het al ‘n paar keer lus gekry om om te stap en ‘n paar klappe uit te deel, maar as vrou sou ek definitief tweede gekom het. Hoe redeneer jy in elk geval met ‘n klomp besope mense?" was een klagte van ‘n inwoner op Louis Trichardt. Dit is opmerklik dat, ten spyte van die frustrasie, baie van die klaers maar op die ou end die geraas aanvaar het, as ‘n mens dit so kan noem.

"Dit is erg, maar ons wil nie moeilikheid of kwaai vriende maak nie," was telkens die antwoord.

Twee weke gelede het die Zoutpansberger ‘n oproep ontvang van ‘n vrou van Middelburg wat wel besluit het genoeg is genoeg. Sy het op die koerant se webtuiste ‘n storie in die argiewe opgespoor wat ‘n paar jaar gelede verskyn het oor rusverstoring. Sy wou graag meer inligting hê. Haar oproep het gevolg na ‘n onderonsie met haar buurman nadat dié se seun daagliks tot laataand met ‘n vierwielmotorfiets om die huis gejaag het.

"Dit was net nooit meer stil nie. Dit was toe dat ons die polisie skakel om met die mannetjie te kom praat. Glo dit of nie, die volgende dag ontvang ons ‘n prokureursbrief wat ons met hof- en regskoste dreig as ons ooit dit weer sou waag om die polisie te skakel. Die rede: Ons plaas ‘n beletsel op ons buurman se demokratiese reg om binne sy eie erf homself te geniet. Wat van ons reg tot rus en privaatheid?" was die vrou se vraag.

Op gesigswaarde lyk dit nou asof inwoners maar moet vrede maak met die geraas, maar dit is nie heeltemal die geval nie.

Soos in die geval van landswette, is daar ook "wette" wat inwoners se optrede teenoor mekaar reguleer. Hierdie is egter nie wette in die ware sin van die woord nie, maar munisipale ordonnansies. Elke munisipaliteit kan sy eie ordonnansies bepaal en inwoners sal bly wees om te weet dat die Makhado Munisipaliteit wel oor ‘n ordonnansie beskik van die kwessie van rusverstoring aanspreek.

Dié munisipale ordonnansie, getiteld Versteuring van Openbare Rus, verskyn onder hul Straat en Diverse ordonnansies en lees onder meer dat geen persoon die openbare rus sal versteur in ‘n straat of openbare area, of op ‘n privaat perseel, deur geraas te maak deur te skreeu, te baklei, te sing, ‘n musikale instrument te speel, harde musiek te maak of gewelddadig of immoreel op te tree nie. O ja, daar is ook ‘n stewige boete van R2 000 of gevangenisstraf van nie langer nie as ses maande vir diegene wat skuldig bevind word aan rusverstoring.

Maar word hierdie ordonnansies nog toegepas? Die antwoord is ja, aldus mnr. Louis Bobodi, munisipale woordvoerder. Hy sê egter dat hy nie weet van een enkele geval waar ‘n oortreder suksesvol vervolg is nie, want, beweer hy, hulle ontvang geen klagte nie.

So, hoe kla ‘n mens? Klaers kan die munisipaliteit skakel of hul na-uurse beheersentrum in Eltivillas by tel. 015 516 2990/4/6. Die adres van die perseel vanwaar die geraas gemaak word moet verskaf word. Die verkeersbeampte aan diens sal dan met sy/haar eerste besoek die oortreders vriendelik versoek om hul geraas te staak of musiek sagter te sit. Indien die geraas egter voortduur, moet die beampte weer die perseel besoek, dié keer om ‘n lesing te neem met die munisipaliteit se desibelmeter. Terloops, Bobodi het bevestig dat hulle wel nog ‘n desibelmeter het. Sou die lesing die toelaatbare geraasvlak oorskry, sal die persoon aangekla word en sal die meterlesing as bewysstuk in die hof dien. Die belangrikste vereiste is egter dat die klaer ook bereid moet wees om in die hof te gaan staan en sy/haar saak te stel.

Om saam te vat. Daar is dus lig aan die einde van die tonnel (alhoewel baie voel Eskom het hierdie lig permanent afgeskakel). As inwoner het jy nie nodig om te gaan klappe uitdeel nie – dit is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines