ADVERTISEMENT:

 

Anita Benade, wenner van die Droomvrou kompetisie, voel vernederd dat sy by ‘n swak-gereelde kompetisie ingesleep is. Anita wou egter graag iets doen ten bate van die ouetehuis, wat nog geen geld van die kompetisie ontvang het nie. Intussen het die organiseerder skynbaar die dorp verlaat.

Droomvrou 2007 ontaard in ‘n nagmerrie

 

News  Date: 01 February 2008

 

Wie sou kon dink dat ‘n droomvrou-kompetisie in ‘n nagmerrie kon ontaard?

"Ek voel so vernederd", "Totaal onprofessioneel", "Ongeorganiseerd" en "Ek distansieer my daarvan" is sommige van die opmerkings wat deur finaliste van hierdie kompetisie agterna uitgespreek is.

Die Droomvrou kompetisie is op 1 Desember verlede jaar op Louis Trichardt in die Ferdie Beyerssaal aangebied deur ene Maggi Pretorius, wat intussen klaarblyklik die dorp verlaat het. Vrae word gevra rondom al die geld wat tydens die kompetisie ingesamel is. Op die insamelingsvorms word aangedui dat die kompetisie ten bate van Ons Tuiste Ouetehuis is.

Pretorius, blykbaar afkomstig van die Oos Rand, bedryf ‘n modelskool, Simplicity Le Chic, op die dorp. Een van die moeders van die modelle het hierdie week gesê dat Pretorius op 21 Januarie nog ‘n modelklas aangebied het en daarna aan hulle gesê het dat sy vir ‘n paar weke nie klasse sal aanbied nie. Sy het reeds ‘n jaarfooi van R500 per kind en die maandfooi vir Januarie ingevorder.

Volgens deelnemers en beoordelaars het Pretorius verlede jaar begin om die Droomvrou Louis Trichardt kompetisie bekend te stel. Die naam Maggi C. Promotions verskyn op die inskrywingsvorms. Heelwat geld is ingesamel.

Daar was glo ongeveer 28 inskrywings en 14 finaliste se foto’s het in ‘n gedrukte boekie verskyn waarin adverteer moes word teen R150 per kwartblad advertensie. Die advertensieboekie se borgskappe was glo om die uitgawes te dek. Daar is ongeveer 16 kwartblad advertensies, agt halfblad en een volblad advertensie in die boekie

Die debutante wat die meeste geld op die insamelingslyste ingesamel het, het ‘n bedrag van amper R8 000 ingesamel. Die bedrae wat van die ander dames ingesamel het, wissel. Twee het R500 ingesamel, ‘n ander R1 000 en nog ‘n ander R4 000, om net ‘n paar te noem. Nie al die deelnemers het insamelingslyste geneem nie. Die enigste een wat glo met die geld gewerk het en die aankope gedoen het, was Pretorius self. Niemand op die dorp weet presies hoeveel geld ingesamel is nie. Ruim donasies is ook van vele besighede ontvang.

Na die funksie het Pretorius skynbaar met vakansie vertrek.

Dit was ‘n groot skok vir Steffie Breytenbach toe Pretorius, wat by haar ‘n woonstel gehuur het, glo in die middel van Vrydagnag, 18 Januarie, uit die woonstel verdwyn het. Van die meubels wat iemand goedgunstiglik vir haar geleen het, is ook saam vort.

"Sy was ‘n stil en rustige huurder en ons het nooit probleme met haar gehad nie," sê Steffie.

Volgens inligting het Pretorius glo gesê dat die kos vir die glansaand R8 000 gekos het, terwyl die spysenier praat van ‘n bedrag van R2 500, met baie kos as skenkings ontvang. Daar is aan die spysenier gesê dat daar 350 gaste gaan wees en daar was slegs 125. Die kaartjies is verkoop teen R80 per persoon of R120 per paar.

Die galafunksie, wat voorgestel is as ‘n glansfunksie met deftige aanddrag, was ‘n bron van baie klagtes.

"Daar was nie eers servette nie", "Daar was nie koeldrank vir die tafels nie" en "Die geskenke wat deur instansies as pryse geskenk is, het nie as sodanig by die wenners uitgekom nie," was ‘n paar van die eindelose stroom klagtes.

Die grootste nagmerrie is egter die onsekerheid oor wat van die ouetehuis, ten bate van wie die kompetisie aangebied is, se geld geword het. Pretorius het glo teenoor verskeie mense genoem dat sy R5 000 aan die ouetehuis gaan skenk, maar daar het sedertdien nog niks van gekom nie.

Die 14 finaliste wat in die boekie verskyn het, was Louise Malan, Hazel du Preez, Vanessa Nel, Heidi J van Rensburg, Maria van Staden, Louise Holtzhausen, Connie de Souza, Jenny Burger, Elsje Lambert, Anita Benade, Natasja Roos, Elmé van Biljon, Amorine Badenhorst en Annette du Preez.

Anita Benadé is as Droomvrou gekroon en Natasja Roos as Debutante wat die meeste geld ingesamel het. Anita wou baie graag verder vir die ouetehuis geld insamel as Droomvrou, maar omdat alle funksies in samewerking met Maggi C Promotions gedoen moet word, wil sy haar distansieer.

"My gaste vir die aand het van ver gekom en ek is so verneder deur die swak-gereelde funksie. Ek praat namens baie as ek sê dat ek glo dat mense in ander dorpe gewaarsku moet word teen hierdie soort ding."

Mev. Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste, is hewig ontsteld. Sy sê dat sy ‘n ultimatum vir die oorhandiging van die geld gestel het, wat nie nagekom is nie.

"Ek wil in my hele lewe nie weer by so iets betrek wees nie. In die vervolg sal die ouetehuis verkies om die beheer te hê oor die finansies wat ingesamel word," sê Kittie.

Intussen is tevergeefs probeer om kontak met Pretorius te bewerkstellig en is selfoonboodskappe nie beantwoord nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines