ADVERTISEMENT:

 

Wees versigtig vir daardie slenters ...

 

News  Date: 01 February 2008

 

Volgens die reg is bedrog "die wederregtelike, opsetlike maak van ‘n wanvoorstelling wat werklike benadeling tot gevolg het of potensiële nadeel vir iemand anders inhou."

Advokaat Gideon Joubert van die Regsfakulteit van die Universiteit van Venda verduidelik.

Wederregtelik beteken dat iets strydig met die regsmaatstaf gedoen word. Tradisioneel word die boni mores of goeie sedes as maatstaf gebruik om te bepaal of gedrag regmatig is of nie. Opset in die geval van bedrog is die wilsbesluit om ‘n wanvoorstelling te maak met die doel om voordeel daaruit te trek. Met wanvoorstelling word bedoel om mense te mislei.

"Die wese van bedrog is die wanvoorstelling, soos wanneer geld onder valse voorwendsels ingesamel word. Wanneer iemand die indruk wek wat mense oortuig om in te koop in ‘n idee en dan later nie aan die voorgestelde verwagtinge voldoen nie, is ‘n wanvoorstelling gepleeg. Wanvoorstelling kan berus op die misbruik van vertroue en goeie bedoelinge van mense," sê adv. Joubert.

Die nadeel hoef nie noodwendig finansieel van aard te wees nie. Dit kan ook inhou dat mense se gevoelens gekrenk is of dat mense bedrieg of gekul voel.

As iemand by die voordeur kom kollekteer vir dowes, dan is mense gewillig om te gee ten einde so ‘n saak te bevorder. Indien die geld uiteindelik nie vir dié doel gaan nie en dit kom onder die donateur se aandag, kan die donateur dus benadeling ervaar.

Volgens die Wet op Organisasies Sonder ‘n Winsoogmerk 71 van 1997 is dit ‘n misdaad vir persone of organisasies om fondse in te samel onder die voorwendsel dat hulle geregistreer is in terme van hierdie wet. Daar kan op mense se gevoelens gespeel word en hulle word onwetend uitgebuit, terwyl die persone of organisasies nie geregistreer is nie. ‘n Insamelingslys moet die nodige gesagdraende stempels vertoon.

Wat dan gemaak wanneer bedrog vermoed word?

"Bedrog is ‘n misdaad. Wanneer ‘n persoon voel dat hy of sy bedrieg of benadeel is, kan dit as ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak word. Die polisie sal dan ‘n ondersoek loods en inligting en bewysstukke versamel. Daarna gee die polisie die ondersoekinligting oor aan die openbare vervolger wat kyk of daar ‘n prima facie saak is en of daar genoegsame bewyse is vir strafregtelike vervolging. Indien wel, is dit die taak van die staatsaanklaer om die beskuldigde in ‘n geregshof aan te kla," sê Joubert.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines