

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 November 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Na net een plaaswag vergadering hou ‘n dame kop en weer ‘n plaasaanval suksesvol af.
Rita Hattingh van die plaas Newgate, regoor Inn on Louis Trichardt, het ‘n hele magasyn leeggeskiet op ‘n plaasaanvaller en hom verwilder. Rita het nie geweet sy gaan so gou ‘n plaasaanval beleef toe sy die stigtingsvergadering van die N1 plaaswag bygewoon het nie.
Rita, wat tuindienste bedryf, merk op Woensdag, 3 November, om 15:30 onraad toe hulle honde begin blaf. Eers dink sy dis maar weer net die bobbejane wat die honde pla. Lulu, iets tussen ‘n Jack Russel en foxterrier, begin egter grom.
Deur die portaalvenster sien Rita toe vir ta, en dit flits net deur haar brein “Nou moet ek mooi dink”. Sy hardloop na die kombuis en gryp haar handsak waarin haar vuurwapen is en hardloop met die gang na die slaapkamer toe, terwyl sy die traliedeur in die gang sluit. Intussen hoor sy hoe die buitenste veiligheidshek oopgebreek word. Die deur self is oop vir Lulu se onthalwe.
“Het ek die sleutel in die middelste traliehek gelos?” wonder Rita, terwyl sy haar man, Koos, skakel. Koos sê hy kom dadelik van die Albasinidam af en sê Rita moet skiet.
Rita skakel vinnig die ander nommers wat sy die aand by die plaaswag vergadering neergeskryf het.
“Ek vat my .38 en hou die traliedeur dop. Ek hoor hy’s besig in die kombuis en ek kliek dat van my sleutels daar lê. Die volgende oomblik gaan die eetkamer se deur oop en kom hy aan. Toe hy sy hand op die slot van die traliehek sit, toe trek ek los. Ek dink dat ek hom geraak het, omdat hy effens gekantel het. Dit was of my vinger vas was aan die sneller en ek het vyf skote afgevuur,” onthou Rita. Dit bly ‘n raaisel hoe die misdadiger so vinnig weer teruggeseil het uit die klein opening waar hy die buitenste veligheidsdeur oopgebuig het.
Intussen het Rita se man opgedaag, sowel as Jacques Bouwer en die plaaswag. “Die polisie het opgedaag toe dit alreeds donker was,” sê Rita.
Onder die vermiste goedere is karsleutels, ander sleutels, ‘n twee-liter melk en koek uit die yskas, CD’s, ‘n kamera en ‘n aktetas. Die aktetas is buite teruggevind. Daar was geen bloed of teken dat die aanvaller gewond was nie.
“Ek slaap nie in die nagte nie. Ek is glad nie gerus nie,” sê Rita na die nare ondervinding. Sy sê dat sy altyd bang was vir ‘n vuurwapen, maar nou nie meer nie.
Saterdagoggend, om 04:30, het die Hattinghs weer iets gehoor. Die plaaswag het uitgekom, maar niks gekry nie.
Mnr. Bouwer, wat al drie jaar besig is om steunkringe en plaaswagte te stig, sê dat daar die afgelope paar weke vyf nuwe plaaswagte gestig is. Die groter areas, soos Louis Trichardt of Musina, word steunkringe genoem, wat dan opgedeel word in sub-steunkringe of plaaswagte. Van die nuutste toevoegings tot die plaaswagte is Vijgeboomsdrift, Bluegumspoort, die N1 (van die tonnels tot by Clouds End Hotel) Mampaskuil en Bandelierkop. Ander plaaswagte is Beja, Piesanghoek, Bandelierkop/Albasini, Rondebosch en die Vivopad. Roodewal en Rietvleiplotte is nog in die proses om te begin organiseer. Mnr. Bouwer sê dat die plaaswagte funksioneer onder die georganiseerde landbou en dat hulle op daaglikse basis nou saamwerk met die SAPD en kommando’s.
“Die steunkringe organiseer veiligheid op ‘n professionele wyse tot voordeel van die gemeenskap. Ons bied ‘n georganiseerde reaksievermoë en lei die polisie na die toneel,” sê mnr Bouwer.
Mnr. Deon Boshoff van die N1 plaaswag waaronder die Hattinghs val, sê dat die ondersteuning van 'n helikopter miskien ‘n oplossing is om arrestasies in die bebosde berggebied makliker te maak. Daar is nog geen arrestasie na die voorval gemaak nie.
Mnr. Boshoff beklemtoon weereens dat elkeen hom- of haarself in ‘n gegewe situasie moet kan verdedig en dat die vroue en kinders ook paraat moet wees.
Mnr. Abrie Wepener van die jongste plaaswag, Vijgeboomsdrift, wat op 3 November gestig is, sê dat daar aan die begin gevoelens van verslaentheid, vrees en paniek ontstaan omdat die realiteit nou in die oë gestaar moet word. Mnr. Gert Wepener van dieselfde plaaswag sê dat jy nie jou veiligheid aan ‘n ander kan delegeer nie. “Dit het President Mbeki self gesê,” sê mnr. Wepener.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
