

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 February 2008
Me. Maggi Pretorius van Maggi C Promotions het vandeesweek hewiglik uitgevaar teen die persone wat haar daarvan beskuldig dat sy einde verlede jaar as organiseerder van Louis Trichardt se Droomvrou 2007-kompetisie die byeenkoms in ‘n nagmerrie-ondervinding laat ontaard het vir beide deelnemers en gaste.
Pretorius het tydens ‘n telefoonoproep aan die Zoutpansberger verlede Vrydag erken dat sy aanvanklik nie wou kommentaar lewer op die storie nie, maar het tog besluit om haar kant van die storie te vertel ná die verskyning van die voorblad-artikel in die koerant. Dit, sê sy, het gevolg nadat sy verskeie vloek- en skeloproepe, asook twee doodsdreigemente, ontvang het van mense wat die artikel gelees het en haar daarvan beskuldig dat sy ou mense se geld gesteel het. Die kompetisie is op 1 Desember aangebied ten bate van Ons Tuiste Ouetehuis en die tehuis se naam is ook gebruik om fondse te in. Twee maande later is daar nog geen betaling gemaak aan Ons Tuiste nie, met aanduidings dat Pretorius intussen sak en pak die dorp verlaat het. Daar was ook omstredenheid oor presies hoeveel geld ingesamel is, hoeveel aan die ouetehuis oorbetaal moes word, die swak wyse waarop die kroningsplegtigheid aangebied is en die swak gehalte van die kos wat voorgesit is.
"Eerstens wil ek noem dat ek ten volle bewus is van die heksejag teen my en die vele pogings om my te beswadder, nog voordat hierdie artikel verskyn het. Ek weet presies wie hiervoor verantwoordelik is," skryf Pretorius in ‘n verklaring aan die Zoutpansberger.
Sy sê dat sy nie kan nalaat om te noem dat die spysenier waarvan melding gemaak word in die storie eintlik ook die mede-organiseerder van die funksie was nie, naamlik me. Cornette van Greunen. In verlede week se artikel beweer die "spysenier" dat die kos slegs R2 500 gekos het, terwyl Pretorius aanvoer dat die kos R8 000 gekos het.
"Sy (Van Greunen) was baie vinnig op haar selfoon Donderdagoggend om die volgende boodskap te stuur: Doen jouself ‘n guns en gaan kyk op www.zoutnet.co.za. Jy het die voorblad gehaal. Baie geluk met jou suksesvolle projek! Mag daar nog vele dorpe wees!! Maar het sy vergeet, sy was dan deel van die projek?" skryf Pretorius.
Pretorius sê die bewering dat sy sou gesê het die kos vir die aand het R8 000 gekos is "loutere snert".
"Feit is, Cornette het my gevra vir R8 000 vir die kos, want dit is wat dit haar sou kos. Ek het geweier en kwotasies vir ‘platters’ gekry wat die helfte sou kos … Van kosskenkings dra ek geen kennis nie, tensy sy [skenkings] ontvang het waarvan ek nie weet nie. Ons het die groente gekoop, die instansie het dit verwerk, en sy (Van Greunen) en haar ma het dit by my gekry," sê Pretorius.
"Terloops, ek word vir alles geblameer, maar het die spysenier gerieflikheidshalwe vergeet om te noem dat die kos vrot was en dat baie mense daarvan siek was en daaroor gekla het ...? Cornette, in jou wildste drome het die kos nie net R2 500 gekos nie en jy weet dit. Dit is wat net die vleis gekos het…" sê Pretorius.
Wat die omstredenheid betref oor kontantdonasies wat gemaak is deur individue en besighede ten bate van die kompetisie, geld wat geïn is vir die advertensieboekie en die geskenke wat ontvang is as pryse wat nie ooreengestem het met dit wat aanvanklik gegee is, was Pretorius se reaksie hierop:
"Wat die advertensies betref, was Cornette in beheer, maar die deelnemersgelde het ek ontvang, alhoewel daar advertensies verskyn het waarvan ek geen kennis dra nie. Die enigste besigheid in Louis Trichardt wat ‘n advertensie geplaas het en ook ‘n kontantdonasie gemaak het, was PC Worx wat ons gaskunstenaar vir die aand se kostes gedek het. Sover dit die geskenke betref, is skenkings verkry van Louise Holtzhausen in die vorm van parfuum, wat verdeel is tussen die wenners en die debutante, asook Avon geskenke."
Wat die bewering betref dat die wen-debutant R8 000 ingesamel het vir die geleentheid, terwyl daar ook bedrae van R500, ‘n R1 000 en R4 000 deur ander deelnemers ingevorder is, sê Pretorius dat die wen-debutant slegs R6 050 ingesamel het.
"Ek is in besit van stawende dokumente hiervoor en geen ander deelnemer het R4 000 ingesamel nie. Hou in gedagte dat sewe van die (14) deelnemers nie ‘n sent aan borgskappe ingesamel het nie. Dit is baie belangrik dat ek moet noem dat geen, maar geen, ruim donasies van besighede ontvang is nie. As daar wel skenkings was, moet hulle (die besighede) my skakel want ek is nie bewus daarvan nie," sê Pretorius.
Dat Pretorius glo in die middel van die nag verdwyn het uit die blyplek wat sy by inwoners Chris en Steffie Breytenbach gehuur het, sê Pretorius dat sy uiters geskok was oor die uitlating.
"Chris en Steffie is by verre van die dierbaarste mense wat ek in Louis Trichardt ontmoet het, daarom was dit op my beurt ‘n groot skok om te hoor dat Steffie sê ek het in die middel van die nag verdwyn, nogal met mense se meubels," sê Pretorius. Sy sê die Breytenbachs was daarvan bewus dat sy op pad was en dat sy selfs ‘n reëling met Steffie getref het. "So, in die middel van die nag het ek beslis nie verdwyn nie en ook nie met mense se meubels nie."
Pretorius het veral ‘n appeltjie te skil gehad met die Droomvrou-wenner, me. Anita Benadé, wat ook aangehaal word in die vorige artikel. In die artikel word genoem dat Benadé haar te midde van die omstredenheid gedistansieer het van die kompetisie, alhoewel sy graag nog geld vir Ons Tuiste as Droomvrou wil insamel. Pretorius op haar beurt beweer dat Benadé haar reeds voor die kompetisie van enige betrokkenheid by die ouetehuis gedistansieer het.
"Nee wat, sy het haar gedistansieer van die ouetehuis nog voor die funksie en nou blameer sy my. Feit is, Anita, Maggi C Promotions distansieer hulself lankal van jou omdat ek persoonlik dink jy is nie ‘n waardige wenner nie. Een beoordelaar het met my saamgestem … Sy soek rede om nie haar verpligtinge teenoor die ouetehuis na te kom nie en maak my die slaansak. Wees gerus dat ek geen intensie het om my verder te betrek by enige iets waarby sy betrokke is nie, so die vloer is hare, sy moet hom net gebruik," sê Pretorius.
Die grootste omstredenheid in hierdie hele geskil is egter die feit dat Ons Tuiste, ten bate van wie die kompetisie in die eerste plek aangebied is, tot op hede nog nie ‘n sent ontvang het nie. ‘n Bedrag van R5 000 word genoem wat klaarblyklik aan die ouetehuis sou gaan.
"Sover dit Kitty [me. Kitty de Bruin, bestuurderes van Ons Tuiste] betref, wat kan ek sê? Kitty het my reeds op Maandagaand, 3 Desember, geskakel en gesê sekere besighede het haar geskakel om te hoor of sy hul donasies ontvang het. Ek het die saak met beide besighede opgeneem omdat ek geweet het hulle het geen donasies gemaak. Dit was toe leuens. Ek het op Donderdag, 6 Desember, ‘n soortgelyke oproep ontvang. Ek het haar [De Bruin] geskakel en haar gekonfronteer met haar onnodige en ontydige oproepe na mense, en haar woorde was dat dit ‘n baie ongemaklike gesprek is en dat sy sou terugkom na my toe. Nodeloos om te sê, die saak is nooit opgeklaar nie en sy het nog nooit die saak weer met my opgeneem nie. So wag ek steeds op die sogenaamde ultimatum asook die bankbesonderhede van die ouetehuis. Sover dit die geld vir die ouetehuis betref, kan dit onmiddellik oorgeplaas word as ons net die besonderhede het, maar van R5 000 is daar geen sprake nie, alhoewel dit die bedrag is wat ek graag sou wou oorbetaal, maar na al die uitbetalings is dit aansienlik minder, uitbetalings waarvoor ek nie alleen verantwoordelik was nie. Gelukkig het ek stawende dokumentasie vir alles," sê Pretorius.
In haar verklaring meld Pretorius onder meer: "Nee wat, vir ‘n nuweling in ‘n vreemde dorp was dit ‘n goed georganiseerde funksie." Sy sê ook dat mense nou hierdie onsmaaklike aangeleentheid as afgehandel moet beskou.
Maar dit lyk nie of die saak afgehandel is nie.
Afskrifte van Pretorius se verklaring aan die koerant is ook aan al die persone gestuur wie sy by name genoem het.
Van Greunen het in reaksie gesê dat sy wel die SMS gestuur het.
"Dit het gewerk. Ons het bietjie reaksie uit haar gekry en hopelik betaal sy nou die ouetehuis! Ek probeer niks wegsteek nie en is nie spyt oor die SMS nie – sy verdien dit," sê Van Greunen. Sy erken ook dat sy wel Pretorius R8 000 gekwoteer het vir die plegtigheid vir 350 mense, alhoewel net ongeveer 130 opgedaag het.
"Maar dit was nie net vir die kos nie – dit sou alles ingesluit het soos tafeldoeke, servette, eetgerei, koeldrank, koue wyn (en nie warm wyn wat sy daardie aand uit die kombuis soos ‘n ‘shibeen’ verkoop het nie), dekor, ensovoorts. Sy het vir my gesê dit is te veel geld en dat sy die minimum wil spandeer op sulke goed," sê Van Greunen.
Van Greunen erken dat daar probleme met die kos was.
"Ek het dit gaargemaak, maar nie al die kos was vrot nie. Dit het room ingekry en dit was ‘n vrekwarm dag en aand. Ek moes van beter geweet het. Ek vra om verskoning aan almal wat suur spinasie moes eet en die gevolge daarvan moes dra," sê Van Greunen. Sy hou egter voet by stuk dat die kos veel minder gekos het as wat Pretorius aanvoer en dat sy (Van Greunen) tot op hede nog geen aanduiding van Pretorius kon kry oor presies hoeveel geld ingesamel is. Dit is ook nie seker wat die presiese uitgawes was en hoeveel die ouetehuis uiteindelik gaan kry nie.
Breytenbach het op haar beurt genoem dat sy in geen stadium gesê het Pretorius het in die middel van die nag verdwyn nie.
"Sy het ‘n reëling gehad dat sy sou weggaan. Ons was maar net verbaas om te sien dat die woonstel wat sy gehuur het, heeltemal ontruim is," het Breytenbach gesê. Buiten hiervoor sê Breytenbach dat hulle nooit enige probleme met Pretorius gehad het nie.
Benadé het ook heelwat te sê gehad vir Pretorius.
"Ek dink nie eintlik dat so ‘n dubbelsinnige en vals brief enige kommentaar verdien nie. Vir iemand wat so professioneel funksies en fondsinsamelings reël is jy [Pretorius] mos veronderstel om dit seepglad te laat verloop. Maar volgens hierdie verklaring het jy niks gedoen nie en al die fout lê by al die ander mense wat alles moes reël," sê Benadé.
Benadé sê dat Pretorius se bewering dat Benadé haar voor die funksie van Ons Tuiste gedistansieer het ‘n infame leuen is. Met betrekking tot Pretorius se stelling dat sy (Benandé) nie ‘n waardige wenner is nie en dat een van die beoordelaars met haar saamgestem het, sê Benadé: "Hoe kan ‘n beoordelaar geskok wees as dit ‘n eenparige besluit was? En wie het die beoordelaars gekies? Nie ek nie."
"Ongelukkig is daar geen vloer nie, net ‘n grondpad vol klippe en dorings wat jy agtergelaat het," was Benadé se opmerking ten opsigte van Pretorius se uitlating dat die vloer nou hare is.
"Geen mens reël so ‘n funksie en verwag die mense van Louis Trichardt moet daarmee tevrede wees nie. Ons is baie meer gewoond en het ongelukkig baie hoë standaarde. Daarom dra ons gemeenskap se woord krag en is ons woord ons eer, nie infame leuens nie," het Benadé opgemerk.
In antwoord op Pretorius se skrywe sê De Bruin dit is onsin.
"Sy het nog nooit in haar lewe vir my gevra vir bankbesonderhede nie. Sy weet waar ek is en sy weet mos waar my kantoor is – sy kon maar netsowel die tjek al vir ons gebring het. Inteendeel, haar [Pretorius] se ooreenkoms met my was dat die oorhandiging die aand van die funksie sou plaasvind," sê De Bruin. Wat Pretorius se verwysing na De Bruin se ontydige oproepe betref, het De Bruin gesê dat sy eers omtrent twee weke ná die funksie met Pretorius geskakel het, bloot uit nuuskierigheid om uit te vind hoeveel geld ingesamel is.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
