ADVERTISEMENT:

 

Hierdie munisipale rekening toon dat ‘n afsnyfooi van R83 op 14 November verlede jaar gehef is en dat die ontvangs van betaling van R848.60 op dieselfde dag geskied het. Die inwoner sê dat haar rekening elke maand op die eerste van die maand per tjek betaal word.

Tjeks aan munisipaliteit word gewissel “wanneer daar tyd is”

 

News  Date: 08 February 2008

 

Die manier waarop tjeks hanteer word by die Makhado Munisipaliteit, laat heelwat inwoners bietjie kop krap.

Baie inwoners betaal hul water en elektrisiteitsrekening maandeliks per tjek. Een so ‘n inwoner, wat altyd per tjek betaal en nie haar naam genoem wil hê nie, het ongerymdhede bemerk nadat sy per ongeluk twee betalings omgeruil het. Daarna het sy haar state begin bestudeer en vraag na vraag het by haar ontstaan.

"Ek het in Desember per ongeluk my Zoutnet-tjek van R300 en my water en ligte tjek van R1230.35 verkeerdom vasgekram aan die state. Die munisipale tjek word altyd in die poshouer by die munisipaliteit gegooi. Zoutnet het dit dadelik agtergekom en vir my die munisipale tjek teruggegee. Die munisipaliteit het egter die Zoutnet-tjek, wat nie aan hulle uitgemaak is nie en gekruis is, inbetaal en op my rekening laat afgaan. Toe begin ek ‘n bietjie kyk wat op die state aangaan," het die inwoner op 5 Februarie vertel.

Op die state sien sy toe dat sy ‘n paar maal ‘n afsnyfooi (cut off fee) van R83 moes betaal. Sy het egter besef dat sy altyd haar tjeks die eerste van die maand invul en laat aflewer en dat die afsnydatum eers by die sewende van die maand is. Op die state wys dit dat haar betalings eers op die elfde, twaalfde of veertiende van die maand deurgaan.

In November laasjaar is ‘n afsnyfooi van R83 op 14 November gehef en die ontvangs van betaling van R848.60 word op dieselfde datum aangedui, terwyl haar tjek aan die begin van die maand betaal is.

"Hoekom betaal ‘n mens nou ‘n afsnyfooi as jou tjek betyds was en die munisipaliteit nie die tjeks betyds uit die houer haal en/of betyds gaan bank nie?" vra die inwoner. Op haar navraag het sy verneem dat die houer leeg gemaak word "wanneer die munisipale amptenary tyd het" en dat sy moet inkom en in die tou staan om die afsnyfooi reg te maak.

"Ek betaal in die eerste plek met ‘n tjek in die poshouer omdat ek nie in die toue kan kom staan nie," sê die ontstelde inwoner.

Nog ‘n belastingbetaler, mnr. Hein Oosthuizen van die plaas Last Hope, sien ook dat die tjeks wat hy uitmaak aan die munisipaliteit as betaling van sy elektrisieitsrekening lank vat om deur te gaan.

"Ek betaal op die sewende van die maand en die tjek gaan die veertiende of die vyftiende van die maand eers deur," sê mnr. Oosthuizen.

Die navrae rondom die hantering van tjeks is skriftelik aan die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gestel. Mnr. Bobodi kon egter nie op so ‘n kort kennisgewing reageer nie en het nie ‘n datum gegee waarteen hy sal reageer nie.

"Dit sal wees so gou as wat ek die antwoorde van die relevante departemente kry," het Bobodi op 5 Februarie gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines