

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 February 2008
Hoërskool Eric Louw het weereens bewys dat sy akademiese standaard van die hoogste in die provinsie is met sy skitterende uitslae in 2007.
Die skool is tydens die provinsiale bekendstelling van die 2007 matriekuitslae met ‘n agtiende plek in die provinsie bekroon, ver bokant skole soos Merensky, Ben Vorster, Louis Trichardt, Nylstroom en verskeie ander skole waarmee Eric Louw graag vergelyk word.
Twee matrikulante het elk vyf onderskeidings behaal. Hannelie Alers (hoofmeisie 2006/7) het A-simbole verwerf in Afrikaans eerstetaal (HG), Engels tweedetaal (HG), biologie (HG), rekeningkunde (HG) en bedryfsekonomie (HG), terwyl Mirey Saayman haar vyf onderskeidings behaal het in Engels tweedetaal (HG), wiskunde (HG), wetenskap (HG), rekeningkunde (HG) en rekenaarstudie (SG).
Ander skitterende individuele prestasies het gekom van Monique de Bruyn en Fifi Smuts met elk vier onderskeidings en Kirsty Morrish en Leroy Smith met elk drie onderskeidings.
Eric Louw se 2007 matrikulante het altesaam 40 onderskeidings behaal, die meeste in die afgelope vyf jaar. Verder is 35 B-simbole verwerf en 82 C-simbole. Van die 16 Graad 12 vakke aangebied, het 12 vakke ‘n 100% slaagsyfer gehad.
Uitstaande prestasies is behaal in Afrikaans tweedetaal waar me. Annette Kapp se leerders 10 onderskeidings losgeslaan het. Me. Davies, wat Engels tweedetaal onderrig, het vyf onderskeidings gehad en bedryfsekonomie en rekenaarstudie elk vier onderskeidings.
"Ouers van die 2007 Graad-12 groep kan met reg trots wees op hul kinders se uitblinker prestasies. Hierdie voorbeeld wat verlede jaar se matrikulante gestel het, behoort ‘n aansporing te wees vir die huidige Graad 12’s en die skool se welslae behoort aan elke ouer wat ‘n kind het in Eric Louw die gerusstelling te gee dat sy of haar kind by ‘n top akademiese skool in die provinsie is," is die boodskap van die skool.

ADVERTISEMENT:
