ADVERTISEMENT:

 

Afgetrede polisie-inspekteur Ben van Biljon trek noustrop aangesien hy geen pensioenuitbetalings vanaf die Staat ontvang nie.

Polisieman trek noustrop omdat pensioen nie betaal word nie

 

News  Date: 15 February 2008

 

Na agtien en ‘n half jare se getroue polisiediens het insp. Ben van Biljon besluit om af te tree, maar van rustigheid en gemoedsrus op sy oudag het hy nog niks van gesien nie. Tans is hy en sy gesin letterlik van aalmoese afhanklik om aan die lewe te bly.

Ben, wat tot sy aftrede vir vyf jaar lank ononderbroke outopsies uitgevoer het as regsmediese assistent by die staatslykshuis op Louis Trichardt, is in 2004 weens mediese redes van diens afgeboek met volle betaling. In middel 2006 is hy egter beveel om terug te keer werk toe, maar sowat twee maande later (September) word hy weens dieselfde mediese redes weer afgeboek en huis toe gestuur. Sy verblyf by die huis was egter van korte duur en in Januarie 2007 is hy weer beveel om te begin werk.

"Dit was vir my moeilik. Ek kon nie meer vol skofte werk nie en het begin halfdag werk," sê Ben. Dit het hom in Februarie van dieselfde jaar finaal laat besluit om maar eerder aansoek te doen vir vroeë pensioen. Sy aansoek was vir einde Julie 2007 wanneer hy 50 sou word.

Daar was aanvanklik geen probleem met sy aansoek nie, behalwe dat hy nie einde Julie op pensioen sou kon gaan nie, aangesien hy eers in daardie maand sou 50 word. Toestemming is gegee dat hy eers einde Augustus kon aftree.

Augustus het gekom en Ben het op pensioen gegaan. Hy het nog sy salaris vir daardie maand ontvang, asook ‘n betaling wat aan hom gemaak is in September. Daarna het die geldkraantjies egter toegedraai en sedertdien het Ben nog nie ‘n enkele pensioenuitbetaling ontvang nie.

"Dit is nou al maande wat ek van bakboord na stuurboord gestuur word. Kort-kort moet ek hoor hoofkantoor soek nog na hierdie dokumente of daardie sertifikaat. Maandag was hul verskoning dat hulle nog wag word vir een of ander verlofsertifikaat van die polisiestasie hier op Louis Trichardt. Die proses is nou presies waar dit ‘n jaar gelede was. Hulle het mos al in Februarie verlede jaar geweet ek gaan op vroeë pensioen. Waarom kon hulle nie toe die papierwerk uitgesorteer het nie?"

Ben se verhaal klink sekerlik maar soos enige ander persoon s’n wie hom of haar vasgeloop het teen die spreekwoordelik "burokratiese rompslomp". Wat bogenoemde egter nie vertel nie, is die ontberinge wat die Van Biljon-gesin die afgelope vier en ‘n half maande moes verduur en die probleme wat hulle steeds ondervind.

Daar word nie genoem dat Ben-hulle na sy aftrede met regsaksie gedreig is om onmiddellik uit hul polisiehuis te trek nie.

‘n Huis waarin hulle 14 jaar gebly het en sy kinders in grootgeword het.

"Ek het gesê ek sou trek sodra die polisie begin om my pensioen te betaal, maar hulle wou niks weet nie," sê Ben. Hy en sy gesin is toe gedwing om ‘n huis te gaan huur. As hoof broodwinner met geen inkomste nie, het Ben egter gou begin noustrop trek. Later moes hulle hul voertuig verkoop, net om die skuldeisers en bank gelukkig te hou.

"Aan die begin kon ek met plekke soos die meubelwinkel ‘n reëling tref, maar ook hulle begin nou al dreig met regsaksie," sê Ben.

Ben en sy vrou Marietjie bly tans by een van hul drie dogters. Die jongste dogter is nog op skool.

"Ek moes skoolklere bedel by ander mense," vertel Marietjie. Sy is baie bitter oor wat met nou met haar man en hul gesin gebeur.

"From a cop to a begger ... Ek wil net sê my man was altyd daar, netjies en op tyd, nugter en reg vir sy werk. Party maal was hy so besig dat hy Vrydag ‘n koppie koffie sou kom drink en dan eers miskien weer Sondagmiddag. Ja, die salaris was min, maar ons het gelewe," sê Marietjie. Sy vertel verder dat hul kinders nooit kon doen waarin hulle belanggestel het nie, want daar was net nie geld nie. Hulle eerste vakansie was in Desember 1995 by die see en dit was ook hul laaste vakansie.

"Ons kon nooit eers iets ordentlik vir hulle vir ‘n Kersete of ‘n verjaarsdag koop nie ... Daar was altyd neergesien op ‘polisie kindertjies’. Ja, dit is mos die arm kindertjies," sê Marietjie.

Die benarde finansiële krisis waarin Ben en sy gesin hul skielik in bevind het, het in ‘n stadium hom selfs gedwing om in die aand deur asblikke te grawe op soek na blikkies wat hy die volgende dag aan herwinningsmaatskappye verkoop het.

"Jou vrou en kinders ly hieronder. Hulle word verneder. Die bank verstaan nie as jy vir hulle sê die polisie betaal nie jou pensioen nie. Intussen bly die uitgawes dieselfde. My geld is nou op. Ek het niks meer om te verloor nie," sê Ben.

In ‘n poging om te probeer uitvind wat presies die probleem is met Ben se pensioenuitbetalings, het oproepe na die verantwoordelike polisiebeampte hier en die plaaslike stasiebevelvoerder niks opgelewer nie. Die Zoutpansberger is verwys na die polisiehoofkwartier in Pretoria. Alhoewel geen inligting bekom kon word oor wat presies die probleem is nie, was daar darem ‘n simpatieke oor gewees om te luister na Ben se verhaal.

Hierdie simpatieke oor het behoort aan direkteur Selby Bokoba. Hy was aanvanklik nie ten gunste daarvan dat Ben sy probleem in die media aanspreek nie, maar het later begrip gehad vir sy frustrasie.

"Ons ondervind wel probleme met pensioenuitbatlings, veral met verkeerde of gebrekkige dokumentasie wat van plaaslike en provinsiale vlak ontvang word," sê Bokoba. Wanneer dit gebeur, sê hy, kan vertragings voorkom en dat is almal kwaad vir polisiehoofkantoor. Sy aanvanklik raad aan Ben was om ‘n persoonlike afspraak te reël met die polisie se provinsiale adjunkkommissaris in Polokwane, kommissaris Binta, en sy probleem aan hom te verduidelik.

"Ons is baie sensitief oor aangeleenthede soos hierdie, veral wanneer daar gewerk word met mense wat baie jare se getroue diens in die polisie gelewer het. Ons kan hulle nie in die steek laat nie, want hulle het ook rekeninge om te betaal," sê Bokoba.

Bokoba was veral geskok om te hoor dat Ben in ‘n stadium deur asblikke moes grawe.

"Dit is betreurenswaardig dat iemand met soveel jare se lojale diens en toewyding aan die land geforseer moes word om deur asblikke te grawe om te help om sy rekeninge te betaal. Ons het baie simpatie met die omstandighede. Dit is nie hoe ons ons eie mense moet hanteer nie. Wanneer hulle uittree, moet hulle nie vyande van die polisie word nie," sê Bokoba. Sy raad aan ander polisiebeamptes wat dalk vroeë aftrede oorweeg was om voor die aftreedatum met ‘n kundige in die polisie te gaan gesels oor presies watter dokumente benodig word en seker te maak die dokumentasie is reg voordat hulle die diens verlaat.

Alhoewel Bokoba aanvanklik aanbeveel het dat Ben met die provinsie se adjunkkommissaris moet praat, het hy Dinsdagmiddag persoonlik met Ben geskakel.

"Hy gaan blykbaar self kyk na wat die probleem met my pensioenuitbetaling is ... ons sal maar moet wag en sien wat gaan gebeur," sê Ben.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines