ADVERTISEMENT:

 

Klein Carien Botha druk versigtig haar voetjies in die water wat in Akasiastraat stroom. Die waterpype daar is so gaar is dat dit kort-kort gebeur dat hierdie kosbare kommoditeit vermors word. Regs agter Carien se koppie is die groot gat in die pad waar daar van tyd tot tyd gewerk word om die pyp te “lap”.

Inwoners moedeloos gekla oor vrot waterpype

 

News  Date: 15 February 2008

 

"Ons eie Sandrivier," het ‘n inwoner die "rivier" water in hul straat gedoop. Die water het vanuit ‘n gaar waterpyp gestroom vir amper die volle lengte van Akasiastraat.

Klein Carien Botha het versigtig haar voetjies in die water gedruk, onbewus daarvan dat die water wat daar uitstroom ‘n hartseersaak is, aangesien die waterpype so klaar is dat dit kort-kort gebeur dat hierdie kosbare kommoditeit vermors word deur ‘n gebrek aan instandhouding. Inwoners gaan ook gebuk onder streng waterbeperkings.

Die waterprobleem voor die erf van mnr. Koos Britz hou al die afgelope twee jaar aan. Van tyd tot tyd word die lek in die pyp herstel om maar net weer later op ‘n ander plek uit te bars. Die stroom water wat Maandagmiddag afgeneem is, het vanaf Woensdag (6de) so geloop, sê me. Blondie Britz. Sy wys ook die waterlek by die hoek van die erf langsaan wat al twee weke loop.

"Hulle kom werk kort-kort, altyd in die aand, daar waar die groot gat in die pad is. Die pyp is vrot; dit help nie om net elke keer so ‘n stukkie reg te maak nie, die hele pypleiding moet vervang word," sê mnr. Britz.

"As jy dink hierdie water is baie, moes jy gesien het hoe dit al hier geloop het, " sê me. Britz.

Die vorige keer toe die water geloop het, was die dag na Kersdag verlede jaar.

"Die munisipaliteit het vinnig gereageer en hoewel ons met ons gaste sonder water moes wees, was ons bly oor die spoedige reaksie," sê die gesin.

Die groot probleem vanaf 26 Desember was die groot gat in die pad.

"Hulle het aanvanklik ‘n klip in die pad gesit van ongeveer 75cm hoog," sê jong Kobus Britz. Die gesin sê dat mens kort-kort kon hoor hoe motors skielik remme aanslaan om nie in die groot klip vas te ry nie. Koos en Kobus het gestaan en kyk hoe een verwoede motoris uitklim en die groot klip verwyder. Later het die munisipaliteit ‘n kleiner klip in die gat gesit om blykbaar die gat aan te dui. Dikwels het daar amper ‘n vuisgeveg uitgebreek soos wat die een motoris vir ‘n ander kwaad is omdat hy aan die verkeerde kant van die pad ry, alles om die groot gat en klip te vermy.

Sowat anderhalfuur nadat die kamera in die straat by die water en die gat in die pad geflits het, het munisipale werkers opgedaag om die lek te herstel. Hulle het ook die klip verwyder en die gat toegegooi. Hulle het weer gekom toe dit al donker was en hulle moes met ligte werk, sê inwoners.

Mnr. Britz sê hy het nie hierdie keer die lek gerapporteer nie.

"Ek is al moeg gerapporteer," sê hy. Gelukkig het van die ander inwoners die lek aangemeld en was daar na vyf dae reaksie.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het Dinsdag gesê dat die munisipaliteit bewus is van die swak toestand van die dorp se waterpype.

"Daar is meer as R7m begroot vir die opgradering van die dorp se waterpypleiding vir die 2008/9 belastingjaar en die hele sisteem word in fases opgegradeer. Ons gee aandag aan die probleem en stel die tevredenheid van ons verbruikers op prys," sê Bobodi. Bobodi het gesê dat hy nie dadelik die spesifieke inligting rondom die fases beskikbaar het nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines