ADVERTISEMENT:

 

Tjeks word dadelik verwerk, sê munisipaliteit

 

News  Date: 15 February 2008

 

Die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit het hierdie week antwoorde gegee op vrae wat gestel is na aanleiding van probleme met die hantering van tjeks.

Verlede week het ‘n inwoner, wat vir die doel van die artikel anoniem wil bly, ongerymdhede opgemerk ten opsigte van haar water- en elektrisiteitsrekening wat sy altyd per tjek betaal. Dit het gehandel rondom tjeks wat in die munisipale bus gepos word, die afsnyfooi van R83, tjeks wat laat gebank word en ‘n tjek aan ‘n ander maatskappy wat deur die munisipaliteit op hul rekening inbetaal is.

Daarna het nog ‘n inwoner geskakel en gesê dat sy ook ‘n afsnyfooi ontvang het, alhoewel sy kontant gaan betaal het en betyds was met haar betaling.

Woordvoerder mnr. Louis Bobodi het hierdie week gesê dat tjeks wat aan die Makhado Munisipaliteit uitgemaak word, "op ‘n daaglikse basis geregistreer en verwerk word."

Bobodi het gesê dat afsnyfooie nie gehef word as verbruikers betyds betaal nie.

"Daar is ‘n neiging by inwoners om hul tjeks die eerste van die maand te dateer en dit dan laat te deponeer. As u egter tenagekom is, kom asseblief na die finansiële afdeling en bring u stawende dokumente," het Bobodi gesê. ‘n Foto van ‘n staat waar die R83 afsnyfooi gehef is en die betaling op dieselfde dag geprosesseer is, is in verlede week se uitgawe gepubliseer. Die rekeninghouer sê dat sy elke maand haar rekening op die eerste van die maand per tjek betaal.

Bobodi sê dat hy die vraag of die afsnyfooie outomaties per rekenaar afgaan, nie raakgesien het nie en dat hy later daarop sal antwoord.

Munisipale beleid is dat tjeks wat in die munisipale bus geplaas word, op dieselfde dag uitgehaal word en kwitansies daarvoor uitgereik word.

"Dit is die beleid en dit word toegepas. Mense mag miskien nie die beleid tot op die letter navolg nie," sê Bobodi.

Die verbruiker wat ontdek het dat verskillende tjeks as betaling op haar munisipale rekening afgegaan het, het gesê: "Ek het in Desember per ongeluk my Zoutnet-tjek van R300 en my water en ligte tjek van R1230.35 verkeerdom vasgekram aan die state. Die munisipale tjek word altyd in die poshouer by die munisipaliteit gegooi. Zoutnet het dit dadelik agtergekom en vir my die munisipale tjek teruggegee. Die munisipaliteit het egter die Zoutnet-tjek, wat nie aan hulle uitgemaak is nie en gekruis is, inbetaal en op my rekening laat afgaan." ‘n Afskrif van die staat waarop die R300 en die R1230.35 duidelik getoon word, is aan die munisipaliteit gestuur, tesame met ‘n versoek van verduideliking.

Mnr. Bobodi het geantwoord dat die finansiële afdeling die oorspronklike state en tjeks wil sien.

"Foute moet deur die munisipaliteit reggestel word," het Bobodi gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines