

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 February 2008
‘n Nuwe bedrog-slenter het die Soutpansberg Dorpswag, die SAPD, sowel as die GPF (Gemeenskapspolisiëringsforum) in rep en roer, deurdat daar valslik geld ingesamel word vir ‘n beweerde bosskoonmaak projek waarby die drie groepe gesamentlik betrokke sou wees.
Die mees onlangse geval van die slenter het Vrydag, 8 Februarie, kop uit gesteek toe ‘n onbekende man namens die Soutpansberg Dorpswag by ‘n onderneming in die nywerheidsgebied ‘n donasie gevra het, wat vir die skoonmaak van verskeie beboste gedeeltes gebruik sou word.
Volgens ‘n inwoner, wat anoniem wil bly, het die man haar vertel dat hy ‘n lid van die SAPD is wat namens die dorpswag geld insamel vir ‘n gesamentlike projek van die GPF en dorpswag om die dorp te ontbos vir die voorkoming van misdaad.
Hy het die inwoner se vertroue verder gewen deurdat hy haar naam geken het en gesê het dat ‘n persoon wat haar goed ken hom na haar verwys het.
Die persoon wou egter anoniem bly en die niksvermoedende inwoner het gedink dat dit dalk ‘n familielid kan wees wat ook in die dorpswag betrokke is.
Die man, wat netjies geklee en glad geskeer is, loop met twee dokumente rond wat geteken en gestempel is deur ondernemings wat reeds geld gegee het.
Die man het ‘n donasie van R320 gevra en die inwoner het dit vir hom gegee.
"Ná die tyd het ek onraad vermoed toe die man in die begraafplaas se rigting verdwyn en verskeie kere omgekyk het, asof hy wou seker maak niemand gewaar hom nie."
Sy het ‘n dorpswaglid geskakel en die voorsitter, mnr. Dirk Meissenheimer, is van die voorval ingelig.
Volgens Meissenheimer is dit glad nie die manier waarop die dorpswag geld sal insamel nie.
Meissenheimer het ‘n beroep op inwoners sowel as ondernemings gedoen om nie geldelike bydraes aan enige iemand behalwe homself of die ondervoorsitter, mnr Danie Pita, te gee nie.
Verder moet inwoners ‘n gestempelde kwitansie vanaf die dorpswag vereis.
Die Zoutpansbeger het ook die plaaslike polisiewoordvoerder, Kapt Maano Sadike, van die voorval ingelig.
Kapt. Sadike het dadelik gesê dat daar nie so ‘n persoon in die polisie aangewys is om geld namens die dorpswag en die GPF in te samel nie. As hy van die SAPD was, moes hy in uniform gewees het en ‘n magtigingsdokument kon toon. Volgens Kapt Sadike is dit ‘n ernstige misdryf om jou voor te doen as ‘n polisieman en moet die betrokkene dadelik aangekeer word.
Die SAPD sowel as die dorpswag moet dringend geskakel word indien enigiemand of ‘n sakeonderneming ‘n persoon bemerk wat besig is met so ‘n fondsinsameling.
Kapt Sadike het inwoners gewaarsku om nie self die man te konfronteer nie, maar om slegs die polisie in kennis te stel, sodat dié so spoedig as moontlik kan reageer.
Inwoners wat die man gewaar en wil rapporteer kan die polisie tolvry nommer by tel. 10111 skakel, of Kapt Sadike self by tel. 082 565 8233 of die dorpswag se beheerkamer by tel. 015 516 2497. Die voorsitter en ondervoorsitter van die dorpswag kan by die volgende nommers geskakel word. Dirk by tel. 082 789 3927 en Danie by tel. 083 302 5099.

ADVERTISEMENT:
