ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Hein Oosthuizen van die plaas Last Hope staan in die gras by die paadjie na die meterkas (met pyl aangedui) waar die elektrisiteitsverbruik gelees moet word. Oosthuizen sê dat geen voertuig daar kom ry het om die meter te lees nie en dat sy lesings te hoog is.

Meterlesings veroorsaak steeds kopsere

 

News  Date: 15 February 2008

 

‘n Nuwe maatskappy wat die meterlesings vir die munisipaliteit gaan doen, kan dalk verligting bring vir sommige van die aanhoudende probleme met elektrisiteitsrekeninge.

"Die nuwe meterlesers is van ‘n maatskappy met die naam Motla. Hulle vervang die vorige maatskappy, Makombandlela. Daar is meer as 10 meterlesers en ons glo dat die sisteem effektief en bekwaam hanteer sal word," het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê.

Een van die probleme wat gedurig en oor ‘n lang tydperk al voorkom, is die probleem dat meters nie gelees word nie, maar dat die gemiddelde verbruik aanhoudend geskat word. Daar kom ook nie ‘n punt waar die rekening gerekonsilieer word volgens die werklike verbruik nie.

‘n Inwoner wat al letterlik vir jare hiermee stoei, is mnr. Hein Oosthuizen van die plaas Last Hope, sowat ses kilometer wes van Louis Trichardt. In 2005 het hy al gekla oor ‘n elektrisiteitsrekening van R999, terwyl hy geen krag verbruik vir besproeiing nie. Sy rekening was net R200 minder as die van ‘n buurman wat intensief besproei. Volgens sy korrespondensie met die munisipaliteit het hy in daardie stadium al ‘n jaar lank probeer om die saak uitgesorteer te kry.

Uiteindelik is daar in 2007 ‘n nuwe meter op sy plaas geïnstalleer en sowaar, daar is mnr. Oosthuizen se kragrekening in Mei toe R630. Dit was egter dalk die eerste en die laaste keer dat die meter gelees is.

"Mens kan duidelik aan die gras sien as daar ‘n bakkie gery het op die paadjie na die meterkas. Ons ry self hier rond, maar geen voertuig het hier kom ry om die meter te lees nie. Ek is die meeste van die tyd op die plaas," sê Oosthuizen.

Die daaropvolgende rekeninge was R1 531 vir Junie, R1 049 vir Julie, R709 vir Augustus, R972 vir September, R985 vir Oktober, R922 vir November en R922 vir Desember.

"Begin Januarie vanjaar kry ek toe glad nie ‘n rekening nie en ek gaan betaal toe maar ‘n bedrag van R950 sodat hulle nie die krag moet afsny nie. Wat was my verbasing groot toe die rekening R1 213 beloop. Februarie is die rekening toe R1 212 en saam met die uitstaande R264 van die vorige maand, moet ek toe R1 476 betaal. Dit maak glad nie sin nie. Waar kom die skielike verhogings vandaan en dit terwyl die grasse op pad na die meterkas wys dat die meter nooit gelees is nie," sê Oosthuizen.

Vandeesweek het die rekeninge-afdeling aan hierdie gereelde besoeker gesê dat dit interessant is dat die meterlesers nie die meters lees nie, want "hulle verseker ons dat hulle dit lees". Oosthuizen is meegedeel dat die nuwe meterlesers vanaf 1 Februarie aangestel is en dat "daar nou gekyk sal word wat die verskil tussen die ou en die nuwe meterlesers is".

Bobodi het in die Zoutpansberger van 18 Januarie gesê dat die finansiële afdeling sedert die begin van Januarie al 20 tot 30 klagtes rondom foutiewe rekeninge hanteer het en dat die meeste daarvan klagtes van ongewone hoë rekeninge was. Inwoners is ook uitgenooi om hulle klagtes te kom bespreek.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines